Paarl-Oos steeds op dreef
2008-12-04
TESAME met hul goeie kolfwerk, was dit Saterdag ’n alom puik vertoning deur GMT Paarl-Oos met goeie boul- en veldwerk wat ook bygedra het tot hul sege oor Wellington Krieketklub. Die Paarliete het eerste gaan kolf op Wellington se tuisveld, en na 45 boulbeurte daarin geslaag om ’n stewige 233/7 aan te teken. Dit was die vennootskap van Paarl-Oos se openingskolwers, Kurt Julius (42, 3x4 en 1x6) en Garth Lewis (53, 7x4 en 1x6), wat oor die 100 lopies gelewer het, wat die fondament vir ’n oorwinning gelê het. Ander kolwers wat die telbord aan die rol gehou het vir die wenspan, was die kaptein, Bruce Miller (33, 3x4), Tiaan Cloete (42, 2x4 en 2x6) en Jack Daniels (23, 1x4 en 1x6). M Pfister was die enigste bouler van Wellington wat enigsins onder sy opponente kon inklim. Wellington kon tydens hulle kolfbeurt slegs 181 lopies behaal, met Warren Groeneveldt (66, 7x4) en Piet Bergh (25, 4x4) op goeie vorm. Tiaan Cloete (4/36) en Wayne Minnies (3/41) was Paarl-Oos se uitblinkers met die bal in hand. Paarl-Oos se tweede span het op hul beurt die loot verloor teen Wellington II en is ingestuur om eerste te kolf. Paarl-Oos het 216 lopies behaal, met Leroy Goliath (71, 10x4), Dane Schoor (45, 4x4) en Wayne Jantjies (22, 3x4) wat goed gekolf het. Cedric Williams was Wellington se beste bouler (4/39). Verbroude vangkanse en swak boulwerk was Paarl-Oos se grootste vyand, met Wellington wat uiteindelik 220 lopies behaal het. Danie van Zyl (99, 9x4 en 1x6), Cedric Williams (38, 6x4) en P Williams (28, 2x4 en 1x6) was die groot helde om vir Wellington II met 3 paaltjies te laat seëvier. Robin Williams het 3 paaltjies vir 51 lopies geneem vir Paarl- Oos. Saterdag speel Paarl-Oos I tuis, en Paarl-Oos II weg, teen Malmesbury I en II.
More
News
|