Jean is SA se beste
2008-12-04
Jaco van Wyk
PAARL se goue seun, Jean de Villiers, is tydens verlede week se rugbygeselligheid van SA Rugby in Midrand, welverdiend aangewys as Suid-Afrika se Rugbyspeler van die Jaar, asook die spelers se Speler van die Jaar. Nóg twee Paarliete, Burton Francis van die Blou Bulle en Renfred Dazel van die Boland Kavaliers, is ook tydens dié geselligheid vereer, terwyl Ashley Johnson (Griffons), wat ook aan Hoërskool Gimnasium gematrikuleer het, genomineer was vir twee toekennings: die Absa Curriebeker eerste divisie Speler van die Jaar en die Vodacombeker Speler van die Jaar. Die 21-jarige Francis, wat gematrikuleer het by Klein Nederburg Sekondêr, het vir Johnson geklop om die Vodacomspeler van die jaar-toekenning te ontvang. Dazel, ’n oud-leerling van Paulus Joubert Sekondêr, is aangewys as Suid-Afrika se Sewesspeler van die Jaar. Met ’n uitstekende seisoen agter die rug wil ’n mens De Villiers se toekenning amper as vanselfsprekend aanvaar. Menige rugbykenners was immers geskok toe die Stormers-kaptein nie vroeër vanjaar genomineer was as een van die IRB se spelers van die jaar nie. Gemeet aan sy kompetisie tydens dié prysuitdeling is die WP senter se benoeming egter nóg ’n groter prestasie. De Villiers moes meeding met gehalte-spelers, toevallig almal van die Natalse Haaie, in die vorm van Springbokke Bismarck du Plessis (haker), Adrian Jacobs (senter), die kookwater agtsteman Ryan Kankowski en the Beast, Tendai Mtawarira. Die toekenning vir SA se Speler van die Jaar wink al lank vir De Villiers, wat etlike seisoene al as een van die beste spelers in die wêreld, in sy posisie, beskou word. Die toekenning vir die spelers se speler van die jaar is egter ’n toekenning wat in rugbykringe as ’n reuse-eer beskou word, aangesien al die spelers in SA kan stem wie die beste speler van die seisoen was. Dit dien as ’n aanduiding van die enorme hoeveelheid respek wat De Villiers onder spelers in SA geniet. Daar word immers nie verniet na De Villiers verwys as die toekomstige kaptein van die Springbokke nie.
More
News
|