Krismis op Paarlberg
2008-12-04
KRISMISKAMP se groot wit kersklok is vanjaar ’n honderd jaar oud. Dié gewilde piekniekplek op Paarlberg was jare gelede ’n kampplek waar die Grundlingh en Perold families Kersvakansies deurgebring het. ’n Paar jaar gelede het die Heemkring ’n onderhoud met Jackie Grundlingh gevoer oor sy kinderjare by Krismiskamp. Sy pa-hulle het van 1907 daar gekamp, en daardie jare was daar nie so iets soos in ’n motor klim en tot by die kampplek te ry nie. Die bergpad soos ons hom vandag ken, is eers in die 1920s gebou. Die gesin is met ’n wa en twee perde al langs die Gabbema Doordrif tot op die berg aan die suidekant. Terloops die pad na die Taalmonument word vandag nog Gabbema Doordrif genoem. Grundlingh vertel dat in daardie jare was die pad deur Sonnie le Roux se plaas Lantana. Die pad was nie baie goed nie, en elke jaar – so drie weke voor hulle vakansie – het sy pa en ’n paar werkers die pad gaan skoon maak en ’n bietjie herstelwerk gedoen. “Die paadjie was taamlik steil en op ’n plek moes ons die perde afhaak, die wa draai en weer aanhak. Op die berg self was daar nie ’n pad nie,” vertel hy. Behalwe vir al die tente, klere en beddegoed, het hulle vakansietrek ook hoenders, ’n “hog” bier en ’n koei ingesluit. Dit was die seuns se taak om die koei by Krismiskamp te kry. “Ons het ’n kortpad geneem van Enslinstraat op tot by Victoriadam, dan verby die Silverbome by Tweegat tot by Krismiskamp. Dit het ons omtrent ’n uur gevat, maar ons moes vroeg wegspring om voor sonop op die berg te wees.” Oor die jare het hulle die kampplek onder die olienhoutbome mooi ingerig met “kamers” en ’n “kombuis”. In die kombuis is spykers ingekap waaraan eetgerei en doeke gehang kon word, en daar was ook ’n “koelkas” - ’n raam waaroor nat sakke gegooi is, waarin die bier, melk en botter heerlik koel gebly het. Hy vertel dat sy ma selfs ’n kleioond gehad het waarin sy koek en brood gebak het. Eers was dit net die Perolds en Grindlinghs, en later ook die Warmhovens en die Therons. Die kinders het nooit ’n tekort aan speelmaats gehad nie. Die eerste dag van die vakansie het die kinders almal Pennieklip toe gegaan. “Pennieklip was ’n groot plat klip aan die westekant van die berg, en die grootmense het altyd voor die vakansie vir ons kinders ’n oulap of pennie tussen die mos gaan versteek. Nou nie op ’n gevaarlike plek nie. “Dan gaan soek ons daardie oulap. Dit was ’n vreeslike gedoente as jy dit kon kry.” In die dag het die kinders perdgery en die grootmense het jukskei gespeel. In die hitte van die dag het almal skuiling onder die olienhoutbome gesoek, en in die aand het almal tot laat om die kampvuur gesels. Later toe die kinders ouer begin raak, het hulle in die middag afgestap Paarl toe om tennis te speel of te gaan fliek. So het vriende ook van die dorp opgestap om vir die dag te kom kuier. Vandag is Krismiskamp se olienhoutbome nog steeds daar, en ’n mens verwonder jou oor hoe groot hierdie bome kan word. ’n Honderd jaar later en ons braai nog steeds vleis en hou piekniek onder Krismiskamp se skadubome.
More
News
|