Ek verloor minder as "polisieman" Van Wyk 2008-12-04
OP 20 September het ek net my kar ingetrek in die motorhuis na my terugkeer van Gordonsbaai toe jy skielik jou verskyning gemaak het by my hek.
Jy wou weet of ek jou nie herken nie en jy het toe vir my gesę jy ry elke dag met die polisiepatrolliekar in ons straat, want jy patrolleer ons area.
Ek het gesę ons is baie dankbaar dat die polisie dit doen.
Jy het gesę jy is van diens af, maar moet weer vyfuur die namiddag aan diens gaan, maar jy het ’n probleem en jy was nou na jou “kollega” toe, maar hy het gaan visvang en jou vrou sit op Klapmutsstasie en wag vir jou, maar jy het nie geld vir petrol nie en weet nie wat om te doen nie.
Ek het vir jou gesę dat ek nou net verby Klapmuts gery het en as ek nie so moeg was nie, sou ek jou vrou gaan haal het.
Jy het so “eerlik” voorgekom en uit die goedheid van my hart het ek jou ’n R50 gegee (jy het gevra vir ’n R100).
Ek het vir jou gesę dat ons pensionarisse is en nie kan bekostig om geld te verloor wat vir ons kos bedoel is nie, maar jy het my verseker dat jy dit so gou moontlik sal teruggee.
Jy het gesę jy bly in die woonstelle in De Villiersstraat en ons het jou dopgehou en toe jy by die woonstelle kom, het jy ingedraai, maar dadelik weer uitgeswaai en in Versterstraat om die hoek verdwyn.
Ek het toe besef dat jy nie ’n eerlike persoon is nie en dat ek maar kan vergeet om my R50 weer te sien.
Ek het jou nietemin meer as twee maande kans gegee, maar jy het nie met die geld vorendag gekom nie. Jy was seker baie in jou skik omdat jy so maklik geld gemaak het.
As jy ’n polisieman is, dan dink ek nie veel van jou integriteit nie.
Ek, as pensionaris, het my R50 verloor deur iemand te help, maar “polisieman Van Wyk”, jy het meer verloor as wat ek verloor het – jy het ’n deel van jou siel aan satan verloor en wanneer jy eendag voor die Here staan sal jy moet verduidelik waar daardie deel van jou siel is.
Paarliete, wees op jul hoede vir dié vriendelike en op die oog af “eerlike” persoon – want hy is beslis nie eerlik nie.