Thursday 22 September 2011

This site will be updated on 30 September 2011


 

 



Search WWW
Search Paarlpost

 


Paarlberg in goeie hande

Paarlberg in goeie hande
 
2008-12-11

Lise Beyers

IN ’n manswêreld is dit nie maklik vir ’n vrou om aan die stuur te wees van ’n natuurreservaat nie.

Maar die nuwe baas van die plaas op Paarlberg, Louise de Roubaix (32), is nie van plan om hierdeur afgeskrik te word nie.

De Roubaix het behoorlik die bul by die horings gepak toe sy die bestuur van die Paarlberg Natuurreservaat oorgeneem het.

Vir bykans ’n jaar het die reservaat sonder ’n bestuurder gesit, en van die staanspoor af, moes sy inhaal op werk wat agtergeraak het.

De Roubaix is ’n gebore Paarliet wat in Wellington grootgeword het. Sy het aan Hugenote Hoërskool gematrikuleer, waarna sy natuurbewaring gestudeer het aan die Kaapse Technikon.

Vir twee jaar het sy gewerk by die Jonkershoek Natuurreservaat, waarna sy onder andere by natuurreservate in Velddrif, Malmesbury en Porterville betrokke was.

Maar toe sy hoor van die munisipale pos op Paarlberg wat vakant staan, het sy dadelik die geleentheid aangegryp om terug te keer na haar wortels.

“Eens ’n Bolander, altyd ’n Bolander. Ek wil dus die kennis wat ek die afgelope nege jaar opgedoen het, teruggee aan die pragtige omgewing waar ek grootgeword het,” vertel sy.

“Paarlberg is werklikwaar ’n baie spesiale bewaringsgebied. Dit is soos ’n mini-Tafel­berg wat ook deel is van die Kaapse blommerykdom.

“Die reservaat is byna in die middel van ’n dorpsgebied en daar moet dus na alle faktore gekyk word.”

Die reservaat van 1910 hektaar bestaan uit 710 plantspesies waaronder daar seldsame bergfynbos, asook bedreigde renosterveld aan die suidelike hange van die berg is.

Alles bokant Jan Phillipsbergpad is reservaatgrond, terwyl die hange onder die pad munisipale grond is, waarvan heelwat verhuur word aan boere.

“Tans kyk ons na die moontlikheid om van hierdie grond te integreer by die reservaat.

“Dit is ook vir my ’n prioriteit om werk te maak daarvan om die hange van die berg skoon te maak van indringerplante.

“Paarlberg is ’n wateropvanggebied en dennebome, bloekoms en wattels put die waterbronne uit. Dan het hulle ook die natuurlike fynbos hier verrinneweer en die bome is ook ’n groot brandgevaar.

“Dit is makliker gesê as gedaan, want so ’n projek moet behoorlik uitgevoer word oor ’n lang tydperk en kos ook baie geld. Maar ideaal gesproke moet die hange van die berg skoongemaak word.”

De Roubaix was skaars op haar pos, toe ’n beheerde brand in die reservaat buite beheer geraak het en ’n baie groter gebied van die berg gebrand het as wat beplan was.

Verskeie boere in Agter-Paarl het ook skade gely hierdeur.

Sy het dadelik heelwat kritiek ontvang van die publiek hieroor, maar die brand was lank voor haar aankoms reeds beplan.

“Ek het baie ervaring met bergbrande en wanneer ons weer moet brand, sal ek dinge op my manier doen.

“Alhoewel die brand wel buite beheer geraak het, herstel die berg nou baie vinnig ná die goeie reënseisoen, en hier is spesies fynbos wat kop uitsteek, wat nog nooit op die berg aangeteken is nie.”

De Roubaix het nog groot planne om die berg tot sy volle eko-toerismepotensiaal te bring.

“’n Konsultant is tans aangestel om vir ons hiermee te help. Daar word gekyk na die huidige strukture van die reservaat en wat die dra-kapasiteit is.

“Ek sal baie graag ’n opvoedingsentrum wil oprig om veral skoolgroepe oor die natuur te leer.

“Die konsultasieproses sal ook na moontlikhede kyk van of kampeergeriewe of die oprig van chalets in die berg vir natuurliefhebbers.

“Maar die proses word baie versigtig dopgehou en dit sal eers bespreek word met al die rolspelers.”

Sy waarsku egter dat sy van plan is om die reëls van die berg streng te implementeer, en diegene wat oortree, sal beboet word.

De Roubaix woon in die reservaat met haar tienjarige dogter Emma, wat net so ’n liefde vir die natuur het as haar ma.

“Sy sê sy wil ook eendag ’n ‘bokwagter’ word soos haar ma.”

En as ’n mens luister hoe De Roubaix met soveel passie en kennis praat oor Paarlberg is dit duidelik dat die berg nou in die hande is van ’n kundige wat dit vir die toekoms sal bewaar.

* The new manager of Paarl Mountain Nature Reserve, Louise de Roubaix, is set to take the reserve to new heights.


More News
  • Musikant sterf na perdry-tragedie
  • Land-grab chaos in Mbekweni
  • Hawelose-probleem in Paarl aangepak
  • Man in die knyp oor dwelms
  • Sparks fly at Working for Water
  • Delegation to tackle housing problems
  • Diewe takel Wellington besighede
  • Misdadigers sit lank
  •  
        [ Top ] Tel: (021) 870-4600    email: edit@paarlpost.co.za