Bergrivier bedreig deur riool
2008-12-11
Lise Beyers
BOERE aan die oewers van die Bergrivier sit weer met hul hande in hul hare, nadat rou riool drie keer tydens die afgelope paar weke in die rivier gestort is. Die riool was afkomstig van die rioolsuiweringsaanleg naby Mbekweni. Volgens ’n ‘munisipale woordvoerder was die storting te wyte aan bouwerk om die rioolwerke te vergroot en op te gradeer, wat gekompliseer is deur hoë reënval en grondwater. “Hierdie situasie het veroorsaak dat behandelde slyk uitgespoel het rivier toe.” Terwyl een van die stortings plaasgevind het, is ’n watermonster in die direkte omgewing van die storting geneem, en na ’n waterontledingslaboratorium in Stellenbosch gestuur vir analise. Die resultate hiervan het getoon dat die riool basies bestaan het uit onbehandelde riool, met ’n baie hoë e.coli vlak. Na skatting is derduisende liter hiervan in die rivier gestort. Kort op die hakke van hierdie storting, het talle visvrektes voorgekom in die rivier by Noorder-Paarl tot so ver as Sonkwasdrif. Dit is nie die eerste keer dat sulke hoogs-besoedelde stortings in die Bergrivier plaasvind nie, en vir bekommerde wetenskaplikes, ekoloë, asook die landbousektor kan dit op ’n ramp afstuur. Die voorsitter van die Bergrivier Besproeiingsvereniging, Edie Malan, het gesê dat hulle reeds meer as 30 jaar lank baklei teen besoedeling van die rivier. “Dit is ’n komplekse probleem wat ons in die gesig staar en dit is duidelik dat die bestuur van die rioolplaas wankelrig is. “Behalwe riool- en chemikaliestortings wat in die rivier plaasvind, beland riool deur middel van afloopwater vanaf veral informele nedersettings gereeld in die rivier. “Uit ’n landbou-oogpunt kan hierdie besoedelde water nadelig wees vir die wingerd- en vrugtebedryf langs die rivier, want water word hieruit gebruik vir besproeiingsdoeleindes. “Ons uitvoermarkte het streng gesondheids- en kwaliteitstandaarde.” Hy het bygevoeg dat die Besproeiingsraad ’n komitee gestig het wat in samewerking met die Munisipaliteit en Departement Waterwese poog om befondsing, internasionaal en plaaslik, te verkry om die informele nedersettings in die gebied se sanitasiestelsels op te gradeer, om storting hiervandaan na die rivier te verhinder. Aan die anderkant, word die natuurlike ekostelsel van die rivier ook ernstig bedreig. In ’n verslag van die Nasionale Riviergesondheidsprojek word daar juis klem gelê hierop. Verskeie navorsers, wetenskaplikes en belangegroepe het deelgeneem hieraan en in die algeheel bevind dat die Bergrivier, veral in en om die Paarl, onaanvaarbare ekologiese agteruitgaan toon weens besoedeling. Die rivier beskik oor ’n unieke ekosisteem en verskeie wetenskaplikes is van mening dat dit as ’n ‘lewende museum’ verklaar moet word. Die witvis wat uniek in die Bergrivier voorkom, word nie meer hier gevind nie, en talle ander waterdiere en rivierplantegroei word ook benadeel. Dus, as daar nie doeltreffend opgetree word om die Bergrivier te bewaar nie, sal die hoofslaggaar van die gebied tot niet gaan. * Pollution in the Berg River has come into the spotlight, after raw sewage was once again dumped into the river.
More
News
|