Ma, kind sterf van hitte
2008-12-11
Lise Beyers
CHAOS het die afgelope naweek by Antoniesvlei in Bainskloof geheers, wat die lewe van drie mense geëis het. Volgens gerugte het sowat 7000 mense Sondag hier verligting gesoek uit die hittegolf wat die afgelope week geheers het, met temperature van tot 43 grade. Louisa Yvonne Tieties en haar driejarige seuntjie, Oscar, het Sondagmiddag binne hul motor versmoor, toe hulle vermoedelik daarin aan die slaap geraak het. Daar was na bewering geen vensters in die BMW oop nie, en dit het in volle sonlig gestaan. Tieties se 19-jarige seun het op die gru-vonds afgekom, toe hy vir sy ma en boetie gaan soek het. Daar word beweer dat Tieties besope was, en dat sy haar roes in die motor gaan afslaap het. Oscar het steeds gelewe toe hulle gevind is en is deur sy pa, Niklaas, na die Paarl Hospitaal gejaag. Hy was egter reeds met sy aankoms dood. Die gesin is van Eersterivier. Vroeër die dag het ’n man in die stampvol swembad, ook by Antoniesvlei, verdrink. Die liggaam van John Dampies van Kraaifontein is eers ontdek toe swemmers agtergekom het dat hulle op iets onder die water trap. Die veiligheidsregulasies en konrolebeheer by Antoniesvlei word al ’n geruime tyd bevraagteken. ’n Woordvoerder van die Wellington polisie het gesê dat daar elke jaar verdrinkings hier plaasvind, en dat algehele wetteloosheid heers. “Die tragiese gebeure van Sondag was ’n duidelike bewys dat daar geen beheer is oor die massas wat op Antoniesvlei toesak nie. “Hierdie oord is slegs geskik vir ’n maksimum van 1000 dagbesoekers, en eintlik is dít selfs te veel. “Sondag het talle busse vanaf Kaapstad hier aangekom en mense was soos sardientjies in die oord gepak. “Net een sekuriteitswag was aan diens, en geen lewensredders langs die swembad nie. Dit is werklikwaar ’n situasie wat die noodlot uittart. “Die toilet-geriewe is ook heeltemal onvanpas, en dié wat daar is, is ook erg verwaarloos. “Ons het al verskeie kere die Munisipaliteit, wat verantwoordelik is vir dié oord, aangespreek hieroor, maar ons versoeke val op dowe ore.” Bo en behalwe hierdie probleme wat die polisie in die gesig staar, vind talle motorongelukke naby die oord plaas, nadat besoekers Antoniesvlei verlaat. Maandagaand het ’n bakkie vol besoekers aan die oord enkele kilometer daarvandaan in die rigting van Wellington gerol. Niemand was ernstig beseer nie, maar die bestuurder, wat vermoedelik onder die invloed van drank bestuur het, het van die ongelukstoneel gevlug. Die beheer by alle munisipale swembaddens blyk ook ’n kopseer te wees. Daar is geen lewensredders aan diens nie, en veral hierdie tyd van die jaar sak honderde mense op die publieke swembaddens toe. By die Paarl swembad laat hulle slegs 400 persone op ’n slag in die swembad toe, maar ’n gereelde besoeker hier het gesê dat die opsigters geen beheer hieroor het nie. “Talle mense dwing eenvoudig hulle pad na binne, en as hulle beperk word, is dit asof onluste hier uitbreek. “Dikwels betaal mense ook nie die toegangsgeld nie. “Daar is ook geen beheer oor die manier waarop mense hulself in die swembad gedra nie. Ek het al gesien hoe kinders bloedneus geskop word deur ouer kinders wat onverskillig duik en spring in die swembad. Dit is ’n wonderwerk dat hier nie meer verdrinkings is nie.” * Nog ’n persoon het die afgelope naweek in ’n plaasdam verdrink. Benjamin Cupido (24) van Houmoed-plaas teen die hange van Paarlberg, het Saterdag saam met vriende in ’n dam by Laborieplaas gaan swem. Cupido het in die water geduik en nooit weer opgekom nie. Polisieduikers het sy liggaam later die middag uit die dam gehaal. * Three people died on Sunday at Antoniesvlei in Bain’s Kloof, while escaping the scorching heat of the weekend.
More
News
|