Piekniekfees om die draai
2008-12-11
DIE vyfde Kaapse Kontrei Piekniekfees by Bien Donné plaas in Simondium sal plaasvind op 13, 14 en 15 Februarie. Die fees word vanjaar gehou tydens Valentynsnaweek en romanse sal ’n fokuspunt wees. Die nuwe byvoeging van ’n 800m² kos- en wynmark sal verseker dat feesgangers ’n groot verskeidenheid geregte en wyn kan geniet. Besoekers daag leë-hande op, besoek die kos- en wynstalletjies en koop hul piekniekhappies van stalletjie tot stalletjie. Daarna keer jy terug na die groot grasperk en geniet jou piekniek terwyl jy lui-lekker luister na die klanke van instrumentele orkeste. Daar is beide dag- en aandsessies. Daar is ook baie te doen vir kinders gedurende die naweek (Saterdag en Sondag). Die oorspronklike McCully Workshop’s “60 Something Show” sal hier te siene wees op Vrydag- en Saterdagaand (13 en 14 Februarie). Die konserte sluit groot treffers in van die 60’s en besoekers kan selfs ’n paar liedjies verwag uit die 70’s en 80’s. ’n Spesiale Valentynsaandweergawe sorg ook vir van die 60’s se beste ballades. Die fees bied ’n gulde geleentheid om kwaliteittyd met familie, vriende en geliefdes deur te bring terwyl jy ook heerlike kosse en wyne ontdek. Toegang is R50 per persoon vir dagsessies en R100 per persoon vir aandkonserte. Kinders onder 16 kom gratis binne, maar moet deur hul ouer/s vergesel word. ’n Volle program is beskikbaar by www.piekniekfees.co.za of skakel 021-8554750.
More
News
|