Nuwe blik op Anglo-Boereoorlog
2008-12-11
DINSDAG, op Versoeningsdag, om 11:00, stel Marthinus van Bart die protesdigbundel, Songs of the Veld and Other Poems, by die Breytenbach-sentrum in Wellington bekend. Dit bevat gedigte wat tydens die Anglo-Boereoorlog gepubliseer is. Na afloop van die sessie, sal die splinternuwe DVD oor die boere-generaal, Koos de la Rey, vertoon word. Die verhaal agter Songs of the Veld and Other Poems is net so aangrypend en onverwags as die boek self, want oplaas het die pen nie net oor die swaard getriomfeer nie, maar ook oor sensuur en ’n eeu van amperse stilte wat gevolg het op die onderdrukking van hierdie bundel oorlogsgedigte wat die oorlogsmisdade van die Britse leër teenoor die Boere én laasgenoemde se heldhaftige stryd teen ’n oormag professionele soldate die wêreld oor onthul het. Dit sluit gedigte in wat anoniem ingestuur is deur verskeie Suid-Afrikaners, wat ingevolge die krygswet gestraf kon word omdat hulle hul stem verhef het teen die oorlogsmisdade en imperialisme. Redakteur Marthinus van Bart het vir Songs of the Veld and Other Poems ’n aangrypende en vakkundige Voorwoord en Inleiding, in Afrikaans sowel as Engels, geskryf wat die agtergrond waarteen die bundel oorlogsgedigte ontstaan het, skets, en ons meer oor die mense daarby betrokke inlig. In aansluiting hierby, sal ’n dokumentêre DVD oor die beroemde Boere-generaal Koos de la Rey (vervaardig deur Ulula Produksies) om 13:15 vertoon word. Die deelnemers aan die dokumentêr is die historici proff. Fransjohan Pretorius, Andries Raath, André Wessels, en Albert Grundlingh, adv Colin Steyn (kleinseun van die Vrystaatse president MT Steyn), Steve Lunderstedt en Zelda Rowan, wat tans aan ’n geskiedenismeestersgraad oor die lewe van Nonnie de la Rey werk. Om een of beide sessies gratis by te woon, skakel die Breytenbach-sentrum by 021-8732786 of stuur ’n e-pos na ellziena@breyten bachsentrum.co.za
More
News
|