Young Peoples weer aan verloorkant
2008-12-11
YOUNG PEOPLES se eerste krieketspan het die afgelope naweek sy derde agtereenvolgende nederlaag gely toe hulle met 59 lopies vasgeval het teen Vredenburg/Saldanha. Die besoekers van die Weskus het eerste gekolf en van die eerste bal die lopies begin opstapel. Danksy skitterende beurte deur hul kaptein, Warren Wyngaard (82, 11x4 en 2x6), André Huysamen (45, 3x4 en 2x6) en Sakkie Faure (28, 4x4 en 1x6), kon die Weskussers ’n reuse 273/8 opstapel in hul toegelate 45 boulbeurte. Feitlik al die boulers van Peoples het gesukkel, met die uitsondering van Jarier Alexander (3/29 in 9bb) wat onder die omstandighede baie goed geboul het. Peoples se kolwers het weereens erg teleurgestel en kon net 214/9 op die telbord kry. Peoples se kolwers het hul paaltjies met reëlmaat verloor en geen vennootskappe bymekaar geskraap om die telling suksesvol te jaag nie. Brendon Adams (58, 4x4 en 1x6), Justin Ontong (35, 3x4), Dominic Daniels (25, 2x4) en Peter-John de Villiers (23*,1x4) het moedig probeer met die kolf. Vir die besoekers het Sakkie Faure (3/26 in 9bb) fantasties geboul. Die tweede span het op Saldanha nie veel beter gevaar nie en met ’n allemintige 132 lopies verloor. Peoples was die teiken gestel om 246 lopies vir ’n oorwinning aan te teken, maar was vanaf die staanspoor onder groot druk en het gesteier op 30/4. Hulle het nooit herstel nie en na 33 boulbeurte op 90/8 was die wedstryd reeds verby vir die Paarliete. Slegs Ian Gray (25, 3x4) en die jong Junaid Cassiem (39, 4x4) het ’n bietjie veggees gewys. Peoples is uiteindelik almal uit vir net 113 lopies ná 36 boulbeurte. Vroeër die dag het Keenan Pick (1/20 in 9bb) en Wayne Jacobs (1/13 in 9bb) goed gevaar met die bal. Die derde span (165 almal uit) het ook nie te goed gevaar nie en hul wegwedstryd teen Oostelikes (244 almal uit) met 79 lopies verloor. Saterdag kom Peoples I teen Wellington I te staan, laasgenoemde se tuisveld, in die laaste wedstryde van die jaar in die eerste ronde. Peoples II speel tuis teen Wellington I terwyl Peoples III se volgende wedstryd op 10 Januarie sal plaasvind, teen Northdene op Daljosafat.
More
News
|