Geen keer aan Paarl-Oos
2008-12-11
Jaco van Wyk
ONDANKS die feit dat GMT Paarl-Oos in die moeilikheid was vroeg in hul wedstryd teen Malmesbury op Allandale, het die Paarliete se groot kanonne kop gehou en hul span gehelp om ’n puik oorwinning van 115 lopies te behaal. Paarl-Oos het eerste gaan kolf en ’n stewige 218/8 behaal, maar vroeër was die Paarliete in die knyp met die telling op 91/5. Met Malmesbury se C Oosthuizen (4/31) wat die bal behoorlik die praatwerk laat doen het, het die trio van Jackie Daniels (58*, 4x4), Wilton van Neel (20, 1x4 en 1x6) en Zynodien Fredericks (24, 3x4) vir Paarl- Oos uit die moeilikheid kom help. Ander uitblinkers met die kolf aan Paarl-Oos se kant was Garth Lewis (25, 3x4) en Bruce Miller (22, 3x4). Na die Paarliete se kolfbeurt moes die besoekers 219 lopies insamel om die wedstryd te wen. Puik boulwerk deur die Paarliete het Malmesbury egter beperk tot 103 lopies, almal uit. Fredericks (3/34), Hubert Ontong (3/21) en Tiaan Cloete (2/20) was veral die dorings in Malmesbury se vlees. Die besoekers se beste boulers was T Bruintjies (22, 3x4) en D Dudley (21, 1x4). Saterdag (13 Desember) speel Paarl-Oos teen die Worcester streekspan op Daljosafat. Paarl-Oos III speel teen Paarl III op die Parys-velde. * Op 16 Desember bied Paarl-Oos ’n ses- aan-’n-kant Gemeenskapstoernooi aan by New Orleans se velde. Besonderhede van die kompetisie sal op die dag bekend gemaak word. Op 17 Desember hou die klub hul laaste bestuursvergadering van die jaar om 12:00. Kontak Kaptein Apollis by 021-862-5594.
More
News
|