EK was op Dinsdag 2 Desember om 08:00 by Wellington se begraafplaas. Die doel was om op versoek van die familie, blomme te plaas op die graf van wyle Jannie Malan.
Dis langs die graf wat voorberei is vir die teraardebestelling van oom Tienie Malan later die oggend. Ek kan glo dat dit tans ’n bykans onbegonne taak sal wees om die begraafplaas wat so verwaarloos en in so ’n treurige toestand is, van hoek tot kant skoon te maak, maar ’n bietjie konsiderasie vir familie om ’n oop graf sal beslis waardeer word
Op bogenoemde oggend was die begrafnisondernemers besig met hulle deel wat gedoen moes word, maar daar het ook ’n paar munisipale werkers rondgedrentel.
Ek moes behoorlik fyn trap tussen die glasstukke, leë sigaretdosies en ander gemors rondom die twee grafte.
Kan daar dan nie gereël word dat die werkers voor ’n begrafnis net rondom die omliggende grafte, waar die familie moet staan, ’n bietjie hark en die vuilgoed optel nie?
Dit skep darem ’n baie swak indruk van ons plaaslike Munisipaliteit in ’n andersins redelike skoon en boomryke dorp.