Thursday 22 September 2011

This site will be updated on 30 September 2011


 

 



Search WWW
Search Paarlpost

 


Dienslewering pla bietjie

Dienslewering pla bietjie
 
2008-12-18


SEDERT 1991, nadat ek ’n motor splinternuut gekoop het, het ek geen probleme met Novel Ford Paarl se diens tot nou toe ervaar nie.

Ek het elke keer my motor daar laat diens of herstel.

Selfs met my tweede motor, ook ’n Ford, het ek dieselfde gedoen.

Nou na byna 17 jaar ontdek ek dat die diens nie meer dieselfde is nie. Wat pla, is die dienslewering by die sogenaamde “front desk”.

Ek het my motor Woensdag 3 Desember ingeneem om ’n deel te laat vervang. Die hele Woensdag het ek geen telefoonoproep ontvang nie, wat veronderstel was om my in te lig oor die vordering van die herstelpoging.

Ek besluit toe om persoonlik te gaan en steeds kon niemand my inlig wanneer my motor gereed sal wees nie.

Vanaf 15:00 het ek gewag en gewag en so teen 17:00 was ek ingelig dat die motor nie gereed sou wees nie.

Nodeloos om te sê was ek meegedeel dat geen motors beskikbaar is nie.

Soos die noodlot dit wil hê, moes ek daardie aand, ook ’n afspraak nakom.

Dit terwyl daar twee hoflikheidsmotors gestaan het.

Die een was later gebruik vir een van die tegnici om huis toe te gaan.

Ek as arme kliënt word totaal agtertoe geskuif. Was dit nie dat ek een van die “base” raakgeloop het nie, sou ek daardie aand buite die werkswinkel moes gestaan het en ’n ander plan moes gemaak het. Dit op eie onkoste en ongerief.

Ek moes hulle as’t ware dwing om ’n motor vir my te gee.

Die motor, ’n Ford Fiesta, het nogal lekker gery.

Ek het ook gedink dat daardie motor gehou was vir die einste personeellid wat my nie wou weghelp nie, om mee huis toe te gaan.

Donderdag 4 Desember, gebeur dieselfde - eie onkoste en ongerief met geen hoflikheidsmotor nie.

Ek versoek tog maatskappye om veral op te let na die dienslewering wat aangebied word, ongeag die persoon se kleur. Gaan dit net oor die geld wat betrokke is?

Deur so ’n houding in te neem, gaan dit beslis ’n paar kliënte kos, wat miskien jou ondergang kan beteken.

Fiesta

Jürgen zu Bentheim, eienaar van Novel Ford, reageer:

Eerstens wil ons om verskoning vra, maar ook van die geleentheid gebruik maak om ons kant te verduidelik.

Ons leenvoertuie is strenggesproke net vir kliënte wat nuwe voertuie by Novel gekoop het en hulle betaal ook vir daardie gebruik ten tye van die koop.

Die werkswinkel-bestuurder (wat u die voertuig geleen het) het wel die reg om uitsonderings te maak.

Natuurlik het dit besonder swak gelyk toe ’n werker ’n voertuig gevat het om mee huis toe te gaan.

Ek kan dit egter ook verduidelik aangesien die betrokke persoon, die werkswinkel-voorman, die aand op bystand was en dus die voertuig sou gebruik om kliënte in nood by te staan.

Ten spyte van bogenoemde het u egter nie die behandeling ontvang wat u toekom nie en het ek die betrokkenes duidelik aangespreek.

Ek hoop u aanvaar ons apologie en dat ons u weer sal sien. Wat ek egter sterk wil oordra, is dat kleur nie by Novel ’n verskil maak nie.

Ek is oortuig dat dit ook hier nie die bedoeling was nie.

Ons is ook van volgende jaar, Februarie, swart bemagtig, waar ons sewe BEE-aandeelhouers kry.

Verder word ook aandele vir ons personeel uitgegee.

Ek vertrou dat dit my stelling staaf.

Baie dankie vir u ondersteuning, ons waardeer dit opreg




More News
  • Name change comes with new commitment
  • Maar moeilik met diens in middedorp
  • Rooi linte nie vir vandalisme
  • Moenie die naam verander nie
  • We can make a difference
  • Doen julle werk!
  • SMS
  • Peace under the (Linden) trees
  •  
        [ Top ] Tel: (021) 870-4600    email: edit@paarlpost.co.za