Kampioene berei voor vir grote
2008-12-18
DIE verdedigende kampioen in die Boxing Day 25-myl baanfietswedren, Lesley Snyders, asook die 4-malige wenner, Garth Thomas, gaan die Rhadsport-fietsryklub se byeenkoms eerskomende Vrydagaand gebruik as finale voorbereiding vir die Boxing Day wedrenne. Die byeenkoms, wat om 19:00 by die Faurestraat-stadion begin, beloof om fietsry van hoogstaande gehalte te lewer. Die groot gunsteling vir vanjaar se wedren, Nolan Hoffman van die Neotel-span, het ook reeds sy deelname aan Vrydagaand se byeenkoms bevestig. Die Paarl se nuutste beroepsryer, Magdalene Nicholson, sal ook haar staal toon in die dames-afdeling. Nicholson het onlangs ’n kontrak met die beroeps-fietsryspan MTN geteken. In die o.16-afdeling sal Nathan Cornelissen graag wil voortbou op sy goeie vertonings van die afgelope paar weke. Hy kan egter sterk teenstand van Bradwin Daniëls van die Peco-klub verwag. JC Jantjies en Wade Theunissen sal in die o.10/.12 -afdeling weer hul tweestryd om heerskappy in die skole-afdeling voortsit. Die byeenkoms sal ook ’n nuwe konsep, wat soortgelyk is aan die destydse uur-atletiekbyeenkomste volg, in ’n poging om die wedrenne veel vinniger te maak. Die wedren van die aand is die 15 ronde voorgee-wedren vir ryers in die ope-afdeling. In die o.16-afdeling sal die 10 ronde voorgee-wedren die minder goeie ryers kans gee om die wedren te wen. Hekgelde vir die byeenkoms is slegs R5,00.
More
News
|