Thursday 22 September 2011

This site will be updated on 30 September 2011


 

 



Search WWW
Search Paarlpost

 


Paarliet durf eersdaags Wilde Valsbaai aan

Paarliet durf eersdaags Wilde Valsbaai aan
 
2008-12-18


DIE Wellingtonse seiljagvaarder, Etienne Laubscher, en sy spanmaat, Pieter Hamersma van Stellenbosch, gaan eersdaags ’n aanslag maak op die Wilde Valsbaai Uitdaag-wedvaart.

Dié wedvaart gaan oor Valsbaai vanaf Gordonsbaai na Simonstad en terug geseil word met ’n klein seiljag van net 5,8m (19 voet).

Laubscher en Hamersma gaan die wedvaart seil in herinnering aan die legendariese seiljagvaarder, Bertie Reed, wat intussen oorlede is. Bertie het altesaam aan drie alleenvaarte om die wêreld deelgeneem onder die Suid-Afrikaanse vlag.

Die Bolandse duo het spesifiek besluit om met dié klein seiljag te seil aangesien dit dieselfde boot is wat Bertie Reed geseil het met die inhuldigingswedvaart (presies vyf jaar gelede).

Met hul terugtog vanaf Simonstad het Reed en Laubscher in stormagtige weersomstandighede gebots met ’n walvis wat onderdeur hul boot geswem het.

In die proses het die roer morsaf gebreek en die bemanning en seiljag het gevaar geloop om in ’n sterk noordwestewind op die rotse te loop teen die kus naby Gordonsbaai.

Uiteindelik moes die hulp ingeroep word van die Nasionale Seeredding Instituut se Stasie 9 om vir Reed en Laubscher na veiligheid te sleep.

Reed kon nie glo wat met hom gebeur het nie aangesien hy reeds drie keer om die wêreld geseil het en nooit enige bystand nodig gehad het nie.

Drie maande later, nadat ’n nuwe roer gebou is, het Reed en sy seun Stanley die eerste suksesvolle wedvaart oor Valsbaai en terug voltooi met ’n tyd van 11 uur 20 minute - en dit is gedoen volgens die reëls waar net twee bemanningslede aan boord mag wees en die boot korter as 6 meter moes wees (intussen is die toelaatbare lengte verleng na 8 meter).

Ses maande later het Laubscher en Bob Orchard (69) met dieselfde boot geseil en die tyd verbeter na 10 uur en 36 minute. Die tyd kon vinniger gewees het, maar in ’n stadium moes hulle in ’n verkeerde rigting seil om uit die pad te bly van ’n walvis wat binne 20 meter van die seiljag af was.

Ongeveer drie jaar gelede het Laubscher en Martin January weer ’n aanslag gemaak, maar het met die oortog in twee windstiltes beland wat hul poging om ’n nuwe rekord op te stel, gekortwiek het. Maar met hul terugtog oor Valsbaai het hulle met hierdie klein seiljag die 21 seemyl kafgedraf in 4 uur en 10 minute.

Dit het vir Laubscher aan die dink gesit en gemotiveer dat dit tog moontlik kan wees om sy tyd van 10 uur 36 minute oor Valsbaai en terug te verbeter.

Sodra die weer dit toelaat en die wind uit die regte rigting waai, gaan Laubscher en Hamersma weer ’n aanslag loods.

Hamersma het self baie seemyle in sy logboek. Sy ervaring en kennis sal van onskatbare waarde wees.

Intussen lê en dobber die klein seiljag rusteloos in die Gordonsbaai hawe in afwagting vir die regte weerpatroon.




More News
  • Kavaliers moet momentum gebruik
  • Sewes-aksie begin reeds môre
  • Baie visse uitgetrek
  • Standards koning
  • Last shot at gun run
  • Entries open for local MTB race
  • Wedvlug-duiwe
  • Sportdagboek
  •  
        [ Top ] Tel: (021) 870-4600    email: edit@paarlpost.co.za