Kersfees trane
2008-12-18
Lise Beyers
SKAARS het die feesseisoen behoorlik afgeskop, en reeds het vyf mense die afgelope week op plaaslike paaie gesterf. Verlede Donderdagnag, omstreeks 01:00, is drie mense op die Klapmuts/Simondiumpad dood. Die motor met vier insittendes, was vanaf die rigting Klapmuts na Franschhoek onderweg. Die bestuurder het op ’n draai naby die aansluiting met die Simondiumpad beheer oor die voertuig verloor, teen ’n boomstomp gebots en ’n kragpaal stukkend gery, voordat dit op die spoorlyn te lande gekom het. Eric Plaatjies (25), Tsepo Plaatjies (27) en Piti Manduleli (26) is op slag dood. Yanga Sowendo is hospitaal toe geneem met ernstige beserings. Almal is van Franschhoek. Verskeie ongelukke het reeds op dieselfde draai plaasgevind. Verlede jaar is drie mense ook daar dood. Saterdagoggend vroeg is een persoon dood en tien beseer in Jan van Riebeeckrylaan naby Mbekweni. Elf mense agter open twee voor in, het soos sardientjies ’n Opel Corsa bakkie volgepak. Volgens ’n ooggetuie het een van die bande van die bakkie gebars, waarna die bakkie gerol het. Die oorledene, Gregory Appolis (25), is uit die bakkie geslinger en het teen ’n paal op die middelmannetjie te lande gekom. Tien mense is met ligte beserings na die Paarl Hospitaal geneem. ’n Woordvoerder van die polisie het gesê die bakkie was heeltemal oorlaai toe die noodlottige ongeluk plaasgevind het. “Ons gaan nie sulke gedrag duld nie. Bestuur onder die invloed van drank en onpadwaardige voertuie gaan ook in ons spervuur wees.” (Sien ook bl. 2) * Five people have died on local roads due to motor vehicle accidents.
More
News
|