Groot Kersgeskenk vir kinderhuis
2008-12-18
’n TAMAAI Kersgeskenk vir die kinders van Huis Andrew Murray is onlangs by dié Wellingtonse kinderhuis afgelaai. Volgens Johann von Wielligh, hoof van die kinderhuis, het ’n onbekende weldoener pas ’n skenking van ’n paar duisend rand na die kinderhuis gebring met die versoek dat die geld nie deel moet word van die bedryfsuitgawes van die kinderhuis nie, maar dat dit tot die direkte voordeel van die kinders aangewend moet word. “Ons weet glad nie wie die weldoener is nie,” het Von Wielligh gesê. “Ek en al die ander personeellede was by ons jaarlikse afsluitingsfunksie en net my vrou, Nadia, was by die kinderhuis toe ’n man met ’n viertrekvoertuig by die kinderhuis stilhou. Hy het ’n klomp banksakke vol note aan haar oorhandig en gesê dis ’n geskenk spesiaal vir die kinders van die kinderhuis.” Voordat Nadia die man se besonderhede kon neem het hy weer stil-stil weggery. Sy kon net sien dat hy met ’n viertrekvoertuig ry, maar kon nie sien wat die voertuig se registrasienommer was nie. Toe haar man later by die kinderhuis aankom, was hy stom verbaas om dié sakke, propvol netjiese bondels R100-note, in sy kantoor te sien staan. Die bestuur van die kinderhuis het volgens Von Wielligh dadelik besluit om die aansienlike bedrag geld in 2009 as sakgeld vir elke kind in die kinderhuis aan te wend en om die onbekende weldoener te bedank en van hul besluit in kennis te stel. Slegs ’n paar van die kinders ontvang tans sakgeld van familielede of van vakansie-ouers, maar die oorgrote meerderheid kry geen sakgeld nie. Tot dusver kon die paar kinders wat wel sakgeld ontvang een keer per week dorp toe gaan om self iets te koop. Dié wat nie sakgeld ontvang nie, moes die geleentheid verbeur om te leer om verantwoordelik met hul eie geld om te gaan. Danksy die ruim kontantskenking sal elke kind in die kinderhuis volgende jaar die geleentheid kry om te leer om met hul eie sakgeld te werk. Volgens die hoof het al Huis Andrew Murray se kinders hul eindeksamens geslaag. Daar word tans nog net op die uitslae van die twee matriekleerders gewag. Van die 150 kinders in die kinderhuis het 11 aan die einde van 2008 die kinderhuis verlaat nadat hulle onder pleeg- of ouerlike sorg uitgeplaas kon word. Die waglys vir dié 11 vakante plekke in die kinderhuis staan tans op 40.
More
News
|