Feesseisoen bring vreugde
2008-12-18
Devidean Moses
DIE feesseisoen het op ’n dapper noot begin - sommige inwoners doen reeds hul Kersfeesinkopies, en sommiges het groot planne vir die vakansie noudat die skole gesluit het. Dis hoogtyd vir ’n blaaskans vir wegbreek om ’n bietjie te ontspan. Baie kinders van die dorp is vreeslik opgewonde om weer see toe te gaan en natuurlik het hulle ook lang lysies vir Vader Kersfees. Die winkels woel van die mense wat inkopies doen vir Kersgeskenke. Paarl Post gaan hoor wat die jong klomp se vakansieplanne is. Jason Westcott sien vreeslik uit om sy vakansie saam met familie en vriende te spandeer. Hy sal ook weer kans kry om tyd by Grand West en die see te spandeer. “Natuurlik wil ek ’n PSP rekenaarspeletjie hê vir Kersdag,” het klein Jason gesê. “Ek wil graag ’n helikopter met ’n elektroniese kontrole hê. “Ek kan ook nie wag om by my pa in Middelburg te gaan kuier nie, want ons gaan ook in Port Elizabeth en Mosselbaai ’n draai maak,” het die jong knaap, Janse Roux, in een asem genoem. So het Kaylin Sampson en haar boetie, Gershon, opgewonde geraak toe hulle noem dat hulle albei Playstation 2 speletjies wil hê. Tieners op hoërskoolvlak stel egter minder belang in speelgoed - dan kom die sosiale lewe eerste. Maryke Swart, student, het bietjie vakansiewerk gedoen. “Verder gaan ek die feesseisoen saam met my vriende en familie geniet.” Jade Lewis is opgewonde oor haar vakansie, maar kan eintlik nie wag vir die nuwe skooljaar en haar nuwe graad nie, want sy gaan haar maats mis. ’n Groep seuns van Mbekweni en Vanwyksvlei het ook gesê hulle sal maar gedurig dwaal in die winkels om vir hulle lekkernye te koop. Tshimolohoa Hlalele wil graag ’n fiets vir Kersfees hê en sal hierdie vakansie in Transkei deurbring. Lonwabo Nkili kan nie wag om saam met sy familie by Ratanga Junction te baljaar nie. Hy hoop hy kry dalk nuwe Adidas tekkies. Volgens winkelassistente is die speelgoedwinkels vanjaar nie so besig soos in die verlede nie - dalk weens die moeilike ekonomiese tye waarin ouers hulle bevind.
More
News
|