Maak feestyd veilig
2008-12-18
DIE feesseisoen is hier en ieder en elk wil ’n bietjie ontspan en selfs weggaan met vakansie. Maar ongelukkig is daar hierdie tyd van die jaar ook skelms om elke hoek en draai wat hierdie planne wil bederf. Om te verseker dat hierdie feesseisoen gestand doen aan sy naam, loods die Paarlse polisie vandeesweek hul Feesgety Veiligheidsveldtog. Verskeie operasies sal tydens die feestyd gehou word, soos padblokkades en sporadiese kontrolepunte, waartydens enige voertuig of persoon deursoek mag word. Hoë sigbaarheid sal die algehele wagwoord wees om misdadigers vas te trek in hul streke, en die verontagsaming van die wet sal nie geduld word nie. Die probleemareas wat die polisie tans ondervind, is met diefstal van en vanuit voertuie, huisbrake en aanranding. Alhoewel die polisie hul mannekrag ten volle sal gebruik tydens hierdie feesseisoen, is dit nie altyd moontlik om orals te wees nie. Dus word die publiek gemaan om hul oë en ore te alle tye oop te hou vir enige verdagte optredes in hul omgewing. Die volgende wenke moet ernstig opgeneem word om misdaad te voorkom. * Sluit altyd jou voertuig en hou vensters toe. Moet geen waardevolle besittings in voertuie laat nie. * Maak seker dat jou huis goed toegesluit is, en as jy met vakansie gaan, vra die bure om ’n ogie oor jou erf te hou. Stel ook die polisie hiervan in kennis. * Moet nie in die nag alleen rondloop nie, en ook nooit in afgesonderde gebiede nie. * Wees veral versigtig met die hoeveelheid kontant wat jy rond dra, en wees uiters waaksaam met geld trek by OTM’s. * Maak seker dat jou selfoon te alle tye werkend is, en sit noodnommers daarop. Die polisie is net ’n oproep weg indien die publiek hulp nodig het. In die Paarl kan die volgende nommers geskakel word om in direkte verbinding te tree met polisie sektorhoofde in die verskeie gebiede: * Sektor 1: Die middedorp tussen Mark- en Dorpstraat, tot by die Bergrivier Boulevard, 079-894-1251. * Sektor 2: Die gebied suid van Auretstraat tot Hoofstraat, dan by Markstraat af tot by die Bergrivier Boulevard, tot by De Zoete Inval, 079-894-1407. * Sektor 3: Die gebied noord van Auretstraat na Hoofstraat, by Markstraat af tot by die Bergrivier Boulevard en dan tot en met Noorder-Paarl, 082-469-0957. * Sektor 4: Die gebied oos van die Bergrivier insluitend Denneburg, Klein Parys en Dal Josafat, 082-546-5134. * Sektor 5: Die plaasgebiede tussen Du- toitskloof en Wemmershoek, 082-469-1089. * Sektor 6: Die landelike gebied vanaf Noorder-Paarl, reg om die Paarlberg tot by die N1 naby Klapmuts, 079-894-0106. * Be extra cautious this festive season to avoid becoming a victim of crime.
More
News
|