DIE internasionale kabaretster Herman van Veen, wat die naweek optree in die Oude Libertas Amfiteater op Stellenbosch, is binne sy genre, in ’n klas van sy eie. Geen Nederlandse kunstenaar word tot so ’n mate gevier in teaters regoor die wêreld soos hierdie man van Utrecht nie.
Oude Libertas kry ook Vrydag- en Saterdagaand ’n beurt , net soos die Concertgebouw in Amsterdam en New York se Carnegie Hall waar hy in vier tale vol sale trek.
Begelei deur kitaarspeler Edith Leerkes, keer Herman van Veen terug na Suid-Afrika om by Oude Libertas te kom sing oor vaders, moeders, kinders, mans, vroue, bome, dinge wat vergaan, die ewigheid en wat dit werd is. Hierdie vertoning is beslis dié een wat jy nie moet mis nie!
Doen besprekings by Computicket of Oude Libertas se kaartjiekantoor by 021-809-7473 of 021-809-7380.
Die kaartjies kos R140-R160. Die vertoning begin om 20:15 en duur 90 minute.