Vermaaklike Raponsie op planke
2009-01-08
DIE klassieke sprokie, Raponsie, oorspronklik deur die broers Grimm, is tot ’n vermaaklike poppekas-aanbieding verwerk deur Gaerin Hauptfleisch van Spektrum en Stercus produksies, wat ook die regie behartig. Dit word Saterdag 10 Januarie om 10:00 by die Oude Libertas Teater op Stellenbosch aangebied. Soos in die sprokie word Raponsie in ’n toring opgesluit deur ’n nare heks wat haar van almal wil weghou. ’n Prins vind egter die geheim om by haar uit te kom en hulle raak verlief. Wanneer die heks uitvind daarvan is sy vreeslik boos, en gehore sal self moet sien of Raponsie en die prins by mekaar gaan uitkom en of die heks se bose planne sal seëvier. Regisseur Gaerin Hauptfleisch is al bekend vir sy prettige “panto-mini’s” soos Aswoestertjie en Sneeuwatjie. Die ander lede van die gedugte professionele akteurspan is Esther von Waltsleben, Stephanie Hough en Jan-Hendrik Opperman wat al vele kindertoneelstukke op hulle gesamentlike kerfstok het, nie net by Kunstefeeste soos KKNK nie, maar ook by skole oor die hele Wes-Kaap. Die koste beloop R30.Vir besprekings en navrae skakel 021-809-7380.
More
News
|