Familie verloor alles in vlamme
2009-01-08
Lise Beyers
’n GESIN van Smartietown is Nuwejaarsdag dakloos gelaat, nadat hul woning vermoedelik deur ’n man aan die brand gesteek is. Zelda Joachims, haar man Terstin en drie jong kinders het in ’n opslaanhuis op die erf van haar ma, Sannie van Rooyen in Carolstraat, Smartietown, gewoon. Donderdagoggend het dinge egter baie skeef geloop, toe ’n brand in die opslaanhuis ontstaan het. Dit het vinnig versprei en alles in sy pad tot as verbrand. Van Rooyen moes inderhaas ook haar huis ontruim, uit vrees dat die vlamme hierheen sou versprei. Die brand het wél van haar ruite laat bars en skade aan die buitekant van die huis veroorsaak, maar die brandweer het daarin geslaag om dit te blus, voordat erger skade aangerig kon word. Maar vir Joachims en haar gesin was dit te laat. Behalwe die feit dat hulle dakloos gelaat is, is al hul besittings in puin gelê. ’n Byna splinternuwe sitkamerstel, asook haar kinders se Kersgeskenke, het onder andere in die slag gebly. Die uitgebrande wrak van ’n kleuter se fiets was getuienis hiervan. Verskeie ooggetuies het gesê ’n man van die buurt het die vorige aand handgemeen geraak met Zelda. “Sy is selfs aan die oor gebyt.” Volgens hulle het hy vroeg op Nuwejaarsdag in die omgewing van haar woning rondgeloop. Kort voordat die vlamme uitgebars het, het hy na bewering aan hulle uitgeroep dat hy ‘nog vir hulle sal wys.’ “Nou moet ek my lewe van voor af begin,” het ’n troostelose Zelda gesê. Daar was geen teken van haar man, Terstin, tydens en na die brand nie. Die polisie ondersoek ’n saak van brandstigting. * The police are investigating a case of arson, after a woman’s house was burnt down in Smartietown.
More
News
|