Bestendige vooruitsigte vir 2009 eiendomsmark
2009-01-08
INGELIGTE eiendomskopers dra tot die hernuwing van die Paarl in die Kaapse Wynlande by deur sommige van die ouer geboue op te koop en hulle dan na karaktervolle, moderne strukture te transformeer. Volgens Pam Golding Eiendomme is daar ’n geweldige belangstelling in sommige van die dorp se ouer huise, veral dié met ’n interessante historiese agtergrond, en omskep ontwikkelaars vervelige en dowwe geboue in fraai gesinswonings en klein winkeltjies. Die verandering is nêrens so sigbaar as in Hoofstrraat nie, sê PGE se gebiedsbestuurder Surina du Toit. “Hoofstraat het nog altyd ’n paar klein besighede en motorhandelaars gehad wat tipies is van ’n landelike dorp, maar in die afgelope paar jaar het ons ’n algehele transformasie hier gesien. “Dis nou ’n bedrywige en byderwetse plek, vol pragtige, gerestoureerde geboue, koffiekroeë, boetieks en restaurante. Een van die grootste suksesstories is Hoofstraat 279, wat ons twee jaar gelede aan ontwikkelaars verkoop het. “Hulle het die ou versameling van oninteressante kantore en woonstelle geneem en het moderne woonstelle asook besige kommersiële ruimtes geskep wat ’n deli, restaurant en boetiek insluit. “Die atmosfeer is baie soos dié van St George’s Mall in Kaapstad, met baie voetgangerverkeer en buitelug aktiwiteite, omring deur pragtige ou geboue. “Dit word ook ’n aantreklikheid vir toeriste, wat dit geniet as ontspanningsplek en om deur die klein winkeltjies te snuffel en die wonderlike plaaslike kossoorte te geniet.” PGE se besturende direkteur vir die Boland en Overberg, Annien Borg sê: “Die eiendomsmark in die Paarl bly bedrywig ondanks die strawwer handelstoestande wat ons huidiglik ervaar. “Ons sien steeds belangstelling van ’n wye verskeidenheid kopers, wat binnelanders en sakelui insluit wat na Kaapstad pendel. Daar is in die besonder navrae vir wonings in die verskillende sekuriteits- en gholfbuurte.”
More
News
|