Skok na moord op bejaarde
2009-01-08
Lise Beyers
DIE gemeenskap van die Paarl steier steeds ná die gru-moord van ’n bejaarde vrou op die vooraand van Kersfees. Die liggaam van Arlene van der Walt (79) is Maandag 22 Desember in haar skakelhuis in Hoofstraat 100, in die hartjie van historiese Paarl, deur lede van die polisie gevind. Hulle moes ’n ruit breek om toegang tot die huis te kry, nadat haar seun Stefan van Moorreesburg vir Kersfees by die huis aangekom het, en onraad vermoed het toe sy ma nie die deur vir hom oopmaak nie. Daar was geen teken van ’n gedwonge inbraak nie. Van der Walt is deur haar vermeende moordenaar vasgebind en aangerand. Sy is aan veelvuldige beserings oorlede. Dit is steeds onseker of enigiets vermis word vanuit die huis. Alhoewel forensiese deskundiges vir byna twee dae hierna die toneel gefynkam het vir leidrade, is geen verdagtes tot dusver vasgetrek nie. Diegene wat vir Van der Walt in die huis en tuin gewerk het is almal ondervra, maar geen bewyse is gevind wat ’n vinger na enigiemand kan wys nie. Die ondersoek is oorgeneem deur die eenheid teen georganiseerde misdaad wat in Kaapstad gestasioneer is. Hulle volg tans alle moontlike leidrade op. Van der Walt het in haar fraai skakelhuis in Hoofstraat met die naam De Rust gewoon vir 23 jaar. Sy is oorspronklik van Johannesburg waar sy onderwys studeer het by Wits Universiteit. Sy het eers as laboratoriumtegnikus gewerk, en daarna vir 12 jaar as onderwyser by ’n skool vir gestremdes in Johannesburg. Hierna het sy Kaap toe getrek, waar sy vir vier jaar koshuismoeder was by die Universiteit van Kaapstad. Sy het daarna vir 12 jaar as skoolinspekteur (Engels) by die ou Kleurlingonderwysdepartement gewerk, tot en met haar aftrede in 1995. Van der Walt se bure het dikwels vir haar gesien terwyl sy noukeurig in haar netjiese tuin gewerk het. Sy was ook baie betrokke by haar kerk, die Paarlvallei Baptiste gemeente. Haar seun, Stefan, wat twee weke na die tragiese dood van sy ma steeds erg getraumatiseer was, het gesê dat almal wat sy ma geken het vir haar baie gaan mis. “Sy was ’n liefdevolle, karaktervolle persoon wat soms effe eksentriek was. “Sy het almal vergewe en het geen grudges gekoester nie. Sy het vir ons die belangrikheid daarvan geleer om te spaar en te studeer.” Van der Walt word oorleef deur Stefan (38) en ’n dogter Kimi Rund (51) wat ’n mediese dokter in Nieu-Seeland is. Sy is gister ter ruste gelê in Durbanville. * Hierdie moord het sterk ooreenkomste met die moord aan die einde van verlede jaar op bekende Paarl-oos sakeman, Fred Abrahams. Abrahams is ook dood en vasgebind gevind in sy huis en daar was geen teken van ’n gedwonge ingang tot sy woning nie. Daar is wel ’n groot hoeveelheid kontant gesteel. Niemand is in hegtenis geneem in verband met sy moord nie. * The community of Paarl is still reeling with shock, after the brutal murder of an elderly woman in Main Road.
More
News
|