Plase skitter met tafeldruiwe
2009-01-08
’n BLOK Ebony Star tafeldruiwe van die plaas Tweespruit in die Paarl het aan Johan Britz die gesogte eerste plek in die Bergrivier Tafeldruifprodusentevereniging se blokkompetisie vir 2008/09 besorg. Hy het prysgeld van R20 000 gewen. Die kompetisie het bestaan uit die blok- en die jongblok-afdelings en volgens die beoordelaars was daar minimale punteverskil tussen 1ste, 2de en 3de plekke. Hulle was ook beïndruk met die hoë gehalte van die blokke wat hierdie jaar ingeskryf is. Die Bergrivierstreek, wat strek vanaf Paarl tot Piketberg, is vir die beoordeling in twee streke verdeel. Veertien oublokke en vier jongblokke is beoordeel. Jacques Clift van Onverwags (Kosie van Niekerk Boerdery) het die tweede plek verower (R10 000) met ’n blok Flame en die derde plek is gesamentlik gewen deur Willem Brink van Laborans (JD Kirsten Edms Bpk) met ’n blok Flame en Gerhard Olivier van Watervliet 3 (Johan Conradie Boerdery) met ’n blok Ralli (’n gesamentlike R5 000). Die jongblok-kompetisie is gewen deur Henk van der Westhuizen van Môrester Boerdery met ’n blok Sugra 13. Die doel van die kompetisie is om produsente die geleentheid te gee om waardevolle inligting uit te ruil en om erkenning te gee aan individue wat hulle goed van hulle taak gekwyt het. Hierdie kompetisie word met elke jaar groter en beter en lewer ’n waardevolle bydrae tot die tafeldruifbedryf.
More
News
|