Verenigde klopse hou karnaval
2009-01-08
Lise Beyers
DIE Nuwe Jaar het verlede week afgeskop met ’n skouspelagtige vertoning van die verenigde klopse-organisasie, die Wellington Minstrels, op Boland-stadion. Dit was die eerste keer dat al 13 groepe gesamentlik optree, nadat hulle ’n paar jaar gelede geskeur en twee unies gestig het. Oud-burgemeester Herman Bailey het die verrigtinge geopen en het veral dank betuig aan Jackie Abrahams, wat tydens talle vergaderings in 2008 daarin geslaag het om die Drakenstein klopse-unie en Wellington klopse-unie te herenig. Behalwe die feit dat die Wellington klopse vanjaar verenig is, vier hulle ook nou hul 100ste bestaansjaar. Bailey het pertinent gesê dat die klopse ’n baie belangrike rol in plaaslike geskiedenis speel, en dat dié tradisie bewaar moet word vir die nageslag. “Die klopse is ’n teken van bevryding. Hulle het ontstaan nadat die slawe op 1 Januarie 1836 amptelik bevry is. “Die tweede Januarie was dus tradisioneel die dag waarop die bevryde slawe die strate ingevaar het en fees gevier het. “Vanjaar moet dus ook onthou word as die jaar van vereniging - welgedaan aan almal, veral Jackie Abrahams, wat ’n rol hierin gespeel het. “Die skeuring van die klopse het byna veroorsaak dat ’n hele gemeenskap uitmekaar geskeur het.” Bailey het bygevoeg dat dit sy droom is dat ’n fabriek in Wellington opgerig sal word vir die vervaardiging van klopse-uniforms en bykomstighede. Die volgende been van die klopsekompetisie vind op 10 Januarie plaas, waarna die eindronde op 24 Januarie plaasvind.
More
News
|