EK het hom in die voorportaal gesien; die stil seun met die keps op die kop, altyd netjies, rugsak nommerpas agter die rug en rustig. As jy hom gegroet het, moes hy homself omdraai om jou in die oë te kyk. Daai was ’n spesiale groet.
Ander kere het hy net sy oë in my rigting gedraai en geknik. Maar nooit was hy haastig of ongeduldig nie. Met die seun het daar altyd ’n aura van rustigheid saamgeloop.Na ons gegroet het, het hy in die massas verdwyn. Ek het hom net soms per toeval gesien.
Dit het gevoel asof ek hom al jare ken, geweet het wie sy familie is, en hoekom hy so is; gestremd. Hy stap regop, met sy een been – die regterbeen – wat effens sleep, en oë wat net voor hom kyk. Soms bietjie lomp, maar op sy eie manier en eie tyd.
Ek het hom weer in die eksamenlokaal gekry; die rustige seun, gestremd, met al sy skryfbehoeftes voor hom op sy bank en reg om te skryf. Hy het sy vraestel en antwoordstel met ’n knik ontvang. Hy praat nie. Begin onmiddellik deurlees.
Dan begin hy skryf. Hy skryf stadig, maar hy skryf. Later sou ek uitvind hy skryf nie net nie. Nee, hy beantwoord sy vraestel. Stadig.
Hy word getoets, nes sy maats, met dieselfde maat, met dieselfde meetinstrument. Ek wonder, so by myself, wat die uitkoms gaan wees. Gaan hy klaarkry? Hoe merk jy so iemand se werk?
Na elke toesigsessie in sy klas was hy aan my meer bekend. Ek het later nie eens aan hom as gestremd gedink nie. Noudat ek daaraan dink; ek het hom nooit jammer gekry nie. Ek het nooit daaraan gedink dat hy sukkel om te loop en dalk sal val nie.
Die seun wat in die massas verdwyn het, die stil rustige een, was deel van ’n klasgroep. Hy was deel van ’n vriendekring.
Daar was menere en juffroue wat vir hom les gegee het. Hulle het met hom geduld gehad. Hulle moes met ander oë na hom en sy werk kyk. Hulle moes anders aan hom dink.
Toe ek dink hy’s gestremd, toe sien ek hoe God hom ’n duisend keer sterker gemaak het. Sterker as enige moedswillige afknouer, sterker as enige hartelose spotter, sterker as enige ongeduldige mens en sterker as enige liggaamsdeel wat gestremd was.
Sy naam is Norman. Dit vind ek uit toe die prinsipale van die spesiale konsessie praat.
Die inspekteur wil weet – sê sy – of dit op die langtermyn tot sy voordeel gaan wees as hy tot graad 12 bevorder gaan word. Sal hy die mas kan opkom met al die werk en korte matriekjaar?
Moet hy nie maar die jaar in graad 11 herhaal en ’n sterker kandidaat vir 2010 se matrieks wees nie?
Dit gaan mos net oor die kind en wat vir die kind die beste gaan wees. Ons moet hom maar nou traumatiseer om hom die trauma – moontlik – aan die einde van die volgende jaar te spaar. Ons hou hom terug ter wille van homself. So bevorder ons hom.
Die seun met die stil stappie en rustigheid het Norman geraak. Nou, op die oomblik dat sy droom bewaarheid moet word, is hy vir my Normie. Dis die boeta wat diep in my hart gekruip het en nou lê-plek in my binneste kom kry het.
Sy droom wankel nou soos hy ook sommige dae gewankel het.
Ek kyk die prinsipale en ek dink dat sy nou duiwelsadvokaat moet speel. Sy moet die personeel saam met haar op die hofsaak neem.
Dis nou Normie versus die institusie. Dis die swak, gestremde seun wat teen die magtige mense in die hoë gestoeltes moet baklei. Hulle wat jou toekoms met die sleep van ’n swartpen kan maak of breek.
En die raak so warm in my binneste. Net hier waar Normie lê-plek gekry en nes geskop het, kom daai warmte. Dis mos die groot wat jou voete koud maak, jou bene so ’n lammigheid gee en dan van jou ondermaag af tot by jou bo-kop laat gloei.
En ek bid hier in my binneste, uit Normie se lê-plek uit, dat die Here wat hom so laat word het, wat hom hier by Klein Nederburg Sekondêr se massas en opvoeders en by my geplaas het, iets vir Normie moet doen.
Hy kan mos nie weer die laaste jaar se pad stap nie? Dis mos nie reg dat hy in die naam van vir-sy-eie-beswil teruggehou word nie?
Twee ongelukke in een jaar? Moet sy lewe dan nou in ’n lewe van sirkels verander waar ek en ander die draaiings daarvan bepaal? Sit ons hom vandag op ’n pad na nêrens?
Toe luister ek na my hoof, die prinsipale van die massas en van Normie. En Normie sê: “Here, dat ek mag sien!” Net soos daai blinde persoon in die Bybel.
En my hoof begin sê hoe Normie voel; depressief. Sy skets die scenario’s.
Toe praat die opvoeders oor Normie. En die opvoeders, my kollegas, praat vir die massas; hulle wat nie nou hier is nie, maar elke dag vir Normie tussen hulle gekoester het.
Hulle het gesorg vir die verbondenheid waarin hy elke dag veilig kon wees. Hy het nooit gestruikel of geval of gewankel nie. Hy het alles gesê sonder dat hy een keer sy mond oopgemaak het.
Nie een les of dag het hy gemis nie, nie omdat hy so sterk of gesond is nie, maar omdat hulle, die massas waarin ek gedink het hy verdwyn, sy oë, sy mond, sy arms, hande en bene geword het.
En ek luister na die massas soos hulle uit een mond van Normie praat. En my hart, hier om die plek waar hy nes geskop het, is warm.
Daai warmte maak my oë dof. Hulle almal sê Normie is groter as sy gestremdheid. Hy was elke dag, met elke les en elke taak op sy pos. Eintlik het hy beter as baie van sy klasmaats gevaar. Hy het ’n wil om te presteer.
Sy maats, by wie hy geborge was, het deur hom geborge gevoel. En so sing die koor ’n loflied vir die seun wat Norman was en toe Normie geraak het.
En die duiwelsadvokaat raak ’n engel. Nie sommerso ’n engel nie, nee; ’n engel met ’n Krismisboks vir Normie. En ek sien hoe hy sy rapport in ongeloof vashou.
Hy’t ’n hele oggend daarvoor gewag. En hy glimlag so breed dat dit lyk hy styg op.
Ek kyk hoe hy sy verslag lees en sê: “Ek’s volgende jaar ’n senior. Ek het geslaag!”
Dit lyk nogal asof hy vanoggend die paadjie vinniger afstap. Sing – sing en praat – praat met drie van sy maats by hom.
Dit was nie nodig om hom te vra hoe hy voel nie. Jy kon net weet. Ek vra die maats of hulle gaan help met sy matriek-partner, maar hulle sê sonder om te kyk, maar met daai skelm, skalkse kyk: “Nee, Meneer. Dit moet hy maar self doen.”
Aan die onderpunt van die paadjie kry die juffrou hom. Sy’t sag kom sit en my met die rapporte kom help. ’n Paar keer na hom verneem.
En toe sy hom roep, vee hy ’n traan af en sy koester hom styf teen haar en ek sê vir die Here: “Dankie vir Normie se Krismisboks.”Fred Frolicks