HJS se naam hoog gehou
2009-01-08
Lise Beyers
DIT was met skok en ongeloof dat Hugo Biermann (18) die nuus ontvang het dat hy vierde geplaas was in die Wes-Kaap nadat hy sewe onderskeidings behaal het in die matriekeindeksamen. En boonop het hy ’n volle 100% vir wiskunde behaal. Biermann volg nou in die voetspore van sy pa, ds Hugo Biermann, wat in 1973 vyfde geplaas was onder Wes-Kaapse matrikulante. Die jong Biermann was ook nes sy pa, en broer Reinhardt, hoofseun van Hoër Jongenskool. “Ek het geweet dat ek goed gaan doen, maar nooit só goed nie. “Toe ek verlede Maandag die nuus ontvang met instruksies om die volgende dag by die Premier se woning by Leeuwenhof aan te meld, was ek werklik aangenaam verras. “Ek het nie so lekker eksamen geskryf soos wat ek wou nie, en hier en daar was ’n effense haakplek. Met hierdie nuus was ek in skok en kon dit nie glo nie.” Hugo se ma Mariette moes die lang pad Hermanus toe aanpak om vir hom by die Premierswoning in Kaapstad te kry vir die groot geleentheid. Ten spyte van Hugo se welvarendheid voor die skoolboeke, is hy ook ’n kranige sportman. Vir die afgelope drie jaar het hy vir Boishaai se eerste hokkiespan gespeel, asook ’n bietjie krieket en atletiek. Hy het uitgeblink as ’n redenaar en is onder die top 20 redenaars in Suid-Afrika geplaas tydens die 2008 kompetisie in Hartenbos. En dan het hy selfs nog tyd gekry om die sub-redakteur te wees van Boishaai se skoolkoerant. “Net om my verpligtinge as hoofseun na te kom, het baie van my tyd in beslag geneem. “Maar ek het nog altyd geweet hoe om ’n balans te hou tussen werk, sport en sosiale aktiwiteite. Hierdie balans is baie belangrik en as dit behou word, is daar tyd vir alles.” Hugo klok vanjaar by die Universiteit van Stellenbosch in waar hy bedryfs-ingenieurswese gaan studeer. En voordat hy weer sy neus in die studieboeke gaan druk, is hy van plan om so rustig moontlik te verkeer vir die res van die vakansie. * The headboy of Paarl Boys’ High, Hugo Biermann, was placed fourth in the Western Cape after receiving seven distinctions for his matric subjects
More
News
|