Hoffman oorheers wedren
2009-01-08
BOXING DAG 2008 was ’n reuse-sukses met ’n skare van om en by 5000 mense wat fietsry van hoogstaande gehalte kon geniet. Die skare se gunsteling, die professionele fietsryer Nolan Hoffman, het sy aanhangers nie teleurgestel nie en het die puntewedren en die eenmyl-uitnodigingswedren gewen nog voor die hoofwedren begin het. In die uitvalwedren het Hoffman afgereken met die spoedvraat van KZN, Deon Edwards (tweede). Garth Thomas was derde. Martin van Wyk en Thomas was onderskeidelik tweede en derde in die 10km puntewedren. Die eenmyl-uitnodigingswedren het puik fietsry opgelewer, met Hoffman wat weereens uitstekend vertoon het. Reniell Mathyssen van die Paarl het self goed vertoon om ’n tweede plek te behaal, met Thomas wat derde geëindig het. JC Jantjies het geseëvier in twee van die drie o.12 wedrenne, met Graeme Ockhuis wat ’n tweede plek behaal het. Bradwin Daniels het die o.14 wedrenne oorheers en aldrie wedrenne gewen. Beide junior wedrenne is deur Evan Carstens gewen. Dié jong ryer het ook ’n vierde plek losgery in die 25myl hoofwedren, terwyl die plaaslike junior, Brendon Christiaans, in beide junior wedrenne tweede was. Christiaans het vyfde geëindig in die 25myl. Kenners voorspel ’n puik toekoms vir die twee jong ryers. Die skare was baie opgewonde tydens die 25myl wedren toe hul gunsteling, Hoffman, saam met Martin van Wyk, Garth Thomas, Evan Carstens en Ivano Siebrits ’n rondte opgemaak het op die hoofbondel, halfpad deur die wedren. Siebrits kon egter nie die pas volhou nie en het onttrek. Die bondel het hard probeer om die voorlopers weer in te haal, maar Hoffman het aanhoudend aangeval en so sy teenstanders agtergelaat om alleen oor die wenstreep te jaag om die wedren te wen. Thomas was tweede, Van Wyk derde, Carstens vierde en Christiaans vyfde. Die Paarl Fietsryklub bedank die publiek vir hulle ondersteuning.
More
News
|