DIE bekende gholfspeler, David Frost van die wynplaas St Clement (David Frost Wines) in die Paarl-distrik, gaan die skuldeis van meer as R2,2 miljoen wat deur die maatskappy Agricultural Innovations and Management Services (Aims) teen hom ingestel is, teenstaan.
Aims is in Gauteng gesetel en is in November 2006 gelikwideer.
Die eiser voer aan dat daar in September 2006 ’n geskrewe leningsooreenkoms met Frost gesluit is om meer as R1,6 miljoen aan Frost te leen. Aims beweer dat Frost dié geld plus rente skuld.
Frost ontken dat die ooreenkoms tussen hom en Aims, wat by die hofstukke gevoeg is, die volle waarheid weerspieël.
Volgens Frost het hy en die eiser in Desember 2003 ’n skriftelike ooreenkoms aangegaan en is dit nie in die hofstukke vervat nie.
Frost het versoek dat die eiser se aansoek met koste van die hand gewys moet word.
Luidens die hofstukke vra hy dat die eiser R2825 per maand aan hom (Frost) betaal vir die stoor van die eiser se wyn (altesame 30800 bottels 2002 Cabernet Sauvignon en 2002 Merlot).