TWEE koshuise op Stellenbosch, Monica en Elsenburg, het ’n gesamentlike JOOL-projek van stapel gestuur om ’n rekenaarsentrum by die Andrew Murray Kinderhuis in Wellington in te rig.
Incredible Connection in die Paarl Mall het vyf splinternuwe rekenaars en Microsoft Office 2007 studentepakkette aan die projek geskenk en die rekenaarsentrum sal vroeg in Februarie amptelik ingewy word.
“Dit is ’n langtermynprojek en dit behels ook periodieke bystandsessies gedurende die jaar waar die studente ekstra aandag sal wy aan die kinders se rekenaarvaardighede om sodoende ook hul prestasie op skool te verbeter,” sê Nadine Spies, ’n oudleerling van die Hoërskool Hugenote in Wellington, en die projekleier op Monica se huiskomitee.
Die waarde van die skenking beloop meer as R30 000. Johann von Wielligh, hoof van die kinderhuis, is in die besonder dankbaar oor die uitstaande kwaliteit van die rekenaars en glo dat dit ’n reuse bydrae sal maak tot die stigting van die kinderhuis se eerste professionele rekenaarsentrum.
Dié twee koshuise het ook ’n bydrae gelewer tot die opknapping van die kinderhuis se swembad.
Dit was veral met baie opgewondenheid deur die kinders ontvang aangesien Wellington bekend, of eerder berug is, vir die ondraaglike somerhitte!
Die herstelwerk is gedoen deur Deep End Pools en op 7 Februarie sal waterkaskenades en ’n vrugtefees by die kinderhuis aangebied word.