Kweekvlei kweek net trane
2009-01-15
Lise Beyers
’n DROOM van vooruitgang vir talle aandeelhouers van ’n eens vooruitstrewende plaas buite Wellington, het soos mis voor die son verdwyn, nadat hul droomplaas gelikwideer is. En hierdie likwidasie kom as geen verrassing nie, want sedert hierdie spogplaas buite Wellington deur ’n groep van 74 oud-weermaglede van die SA Kaapse Korps opgeraap is, het dit afgestuur op ’n ramp. Die plaas is in 2003 bekom nadat ’n skenking van die Departement Grondsake bewerkstellig is, asook ’n verdere lening van R2 miljoen van die Landbank. So is Biz Afrika 1781 gebore, die eerste swart bemagtigingsgroep in die Boland wat ’n plaas ten volle besit deur middel van die grondhervormingsinisiatief van die regering. Kweekvlei, wat 10 km noord van Wellington lê in Agter Groenberg, se hoofprodukte was eens grootmaat ongepasteuriseerde melk, asook wit en rooi wyndruiwe wat jaarliks sowat 300 ton gelewer het. Maar met die laaste spyker in Kweekvlei se doodskis, was daar skaars ’n enkele stuk vee op die plaas oor, en die wingerd het feitlik heeltemal tot niet gegaan. Wat het nou eintlik verkeerd geloop wat die droom van ’n aftreebonus vir die talle aandeelhouers aan skerwe laat beland het? Van die staanspoor af het ongerymdhede onder direksielede opgeduik, met gereelde onmin onder mekaar. Reeds kort na die aankoop van Kweekvlei het verskeie aandeelhouers aangevoer dat daar volskaalse wanorde op die plaas heers, insluitend bedrog, laksheid en diefstal. En so het Kweekvlei se afdraande pad begin en binne vyf jaar teen ’n muur van verraad tot stilstand gekom. Aandeelhouers sit die blaam hiervoor vierkantig op die skouers van direksielede wat volgens hulle die plaas besteel het vir hul eie gewin. Selfs ’n R830 000 skenking van Sawit (die SA Wynbedryftrust) in 2006 kon Kweekvlei nie red nie, en hierdie geld het ook sonder veel rekord verdwyn. Aandeelhouers glo ook dat die betrokkenheid van die omstrede oud-raadslid Kiepie Rogers van Wellington ook nie gehelp het om die wa deur die drif te kry nie. Rogers is deur die voorsitter van die direksie, Jacobus Fortuin, as ‘mentor’ van Kweekvlei aangestel. Dit is juis Rogers wat die Sawit skenking bewerkstellig het, en al wat aandeelhouers hiervan gesien het, was kruidenierskoopbewyse van R1000 en R2000. Kweekvlei is verlede jaar vir R4 miljoen van die hand gesit en aandeelhouers soek nou antwoorde oor hul deel van die koek. Onlangs het verskeie direkteure - huidiglik en voormalig - almal eise ingedien vir verskillende bedrae met die likwidasie van Kweekvlei. Die eise is geskik op R15 000 elk. Drie direkteure van die eerste direksie het egter reeds by ’n vorige geleentheid geld ontvang en hul nuutste eise is van die hand gewys. Die direkteure wat nou hul geld ontvang het, moes skriftelik ooreenkom dat hulle geen verdere eise sou instel teen die maatskappy nie. Maar steeds sit aandeelhouers met leë hande en net ’n vae herinnering van ’n plaas wat eens hulle s’n was. * The first black empowerment farm in the Boland, Kweekvlei outside Wellington, has been liquidated, leaving a shattered dream for shareholders.
More
News
|