Thursday 22 September 2011

This site will be updated on 30 September 2011


 

 



Search WWW
Search Paarlpost

 


Eienaar en hond herenig

Eienaar en hond herenig
 
2009-01-15

Lise Beyers

DIE feesseisoen het byna ’n tragiese einde gehad vir ’n diereliefhebber van die Paarl, toe haar Skotse Terriërhond spoorloos verdwyn het.

Linda Pienaar het die Saterdag voor Kersfees dorp toe gegaan en haar geliefde Scottie, Andries, agter in haar erf toegesluit.

Met haar terugkoms was daar egter geen teken van die pikswart, harige hond­jie nie.

’n Reuse-soektog is hierna deur Pienaar en haar gesin geloods, waartydens enkele mense in die gebied wel gesê het dat hulle ’n man met so ’n hondjie sien stap het.

Volgens hulle was die hondjie met sy gordel vasgehou en hy het in die rigting van die middedorp gestap.

Hier het die spoor egter doodgeloop.

Die volgende oggend het Pienaar se soektog voortgegaan en hulle het die hele gebied vol gery, vanaf Mbekweni tot Suider-Paarl, en kennisgewings van Andries se verdwyning uitgedeel.

Net toe Pienaar se moed begin sak het met die gedagte dat haar geliefkoosde hondjie nou permanent verdwyn het, het sy ’n oproep ontvang wat haar die lig weer laat sien het.

’n Man het gesê dat hy presies weet waar Andries is. Hy het vir haar gesê dat sy vir hom in Jan van Riebeeckrylaan in Daljosafat moet kry, en hy sal vir haar neem na die huis toe.

So gesê, so gedaan en Pienaar en haar ma is dadelik na die toneel toe en het die man in sy motor gevolg tot in Fairyland.

Hier het die man uit sy motor geklim en die hond vanuit ’n informele woning gaan haal.

Pienaar was oorstelp van blydskap om met Andries herenig te wees, en alhoewel hy baie uitgeput was, was hy net so bly.

Linda Groenewald van die Paarl DBV het gesê dat daar ’n tendens is dat veral skaars honde in die Paarl gesteel word, wat dan weer in die Kaap verkoop word.

“Die enigste raad wat ek vir die publiek kan gee, is om seker te maak dat honde goed binne in ’n erf gehou word, sodat mense van die straat af nie daarbinne kan kom nie.

“Honde moet ook altyd aan ’n leiband wees as daar met hulle gestap word.”

*Nog ’n Skotse Terriër wat ses maande gelede spoorloos verdwyn het toe hy saam met sy eienaars in die Arboretum gestap het, word steeds vermis.

’n Wye soektog, asook ’n vrygewige beloning, het tot dusver niks opgelewer nie.

Enigiemand met inligting oor hierdie hond kan 073-214-2464 skakel. ’n Beloning word steeds vir sy veilige terugkeer aangebied.

* A dog owner was reunited with her Scottish Terrier after he went missing in Paarl.


More News
  • Musikant sterf na perdry-tragedie
  • Land-grab chaos in Mbekweni
  • Hawelose-probleem in Paarl aangepak
  • Man in die knyp oor dwelms
  • Sparks fly at Working for Water
  • Delegation to tackle housing problems
  • Diewe takel Wellington besighede
  • Misdadigers sit lank
  •  
        [ Top ] Tel: (021) 870-4600    email: edit@paarlpost.co.za