Nuwe jaar, nuwe skoolklere
2009-01-15
Liezl Dyson
MET die skool wat eersdaags begin moet ouers weer bontstaan om skoolklere en skryfbehoeftes te koop. Sekere skole het reeds verlede jaar vir die kinders ’n lysie van benodigdhede gegee en ander skole gee hul lysie sodra die nuwe skooljaar begin. Ouers moet vanjaar soveel as R1229 uit die sak haal om hul kinders volledig vir die somermaande te klee. Die bedrag sluit in ’n boeksak, ’n trui, hemde met die skool se embleem op, broek, sokkies, ’n das, oefenklere en ’n oefensak vir ’n seun. Die minste wat ’n ouer kan betaal vir somerklere wissel tussen R207 en R500. Vir dié bedrag kan ouers vir hul kind skoene (R35), sokkies (R6), ’n romp (R15) of ’n broek (29), ’n hemp (R13), ’n trui (R30), ’n sweetpakbaadjie (R40), ’n boeksak (R30) en oefenklere (R38) koop. Volgens Elizabeth Huizies van die Paarl, die ma van Fredorique (11) en Albré Huizies (6), word die skoolklere en skryfbehoeftes elke jaar duurder. Huizies, soos ander ouers, word egter genoodsaak om die geld uit te haal en te betaal. “Met alles sien ek verskriklik uit daarna om te sien hoe my jongste dogter gaan reageer op haar eerste dag by die skool,” het Huizies gesê. Sy het reeds verlede week by verskeie winkels ’n draai gaan loop om te kyk waar sy haar kinders se skoolklere en skryfbehoeftes gaan koop. Zuzeka Mhlabukhutshiwe het ook die winkels ingevaar om vir haar swaer se kind skoolskoene as ’n geskenk te koop. Klein Bukamuso Thelejane (8) gaan vanjaar graad twee toe. Ilze Truter het reeds verlede week haar seuntjie, Robbie (6), se somerklere vir sy eerste jaar op skool gekoop. Volgens Truter gaan sy beslis baie hartseer wees om hom op sy eerste dag skool toe te neem. Sy het ook gesê dat alhoewel haar seun baie uitsien na skool, is hy baie ontevrede dat hy nou elke dag skoene moet dra! Volgens verskeie plaaslike winkels het ouers reeds ná Kersfees hul kinders se skoolklere en skryfbehoeftes begin koop. Die meeste winkels verwag egter ’n groot toeloop van mense teen dié naweek. * Parents were busy buying new school uniforms this week at local stores.
More
News
|