Matrikulant ’n uitblinker
2009-01-15
Devidean Moses
DIE dux-leerder, Gary John Afrikaner (18), was die uitblinker onder 158 matrikulante aan Bergrivier Sekondêr. Hy het met vyf onderskeidings geslaag. Dit maak hom, ten spyte van moeilike omstandighede, een van die 107 toppresteerders wat aangedui was vir die Paarlvallei (matrieks wat vier A’s of meer behaal het). Nadat sy uitslae aan hom bekend gemaak was, was hierdie knaap stom geskok. Hy het op Oujaarsaand kerk toe gegaan om sy Skepper te bedank. Hierdie slimkop presteer al van sy kleuterskooldae en was ook hoofseun van Hillcrest Primêr. “Ek was altyd onder die top drie van graad een tot graad twaalf. Voor die eksamen begin het, het ek myself gevra hoekom kan ek dit nie weer doen - want ek doen dit al vir jare. So het ek my selfvertroue opgebou, hoewel niemand in ons familie al ooit ’n A-gemiddeld behaal het nie”. Sy familie, vriende en onderwysers het hom baie gemotiveer om sukses in die eksamen te behaal. Gary sê hy het nog nooit vantevore so hard studeer nie. Elke dag het hy ’n gedeelte van verskeie vakke geleer, maar party dae het hy ’n volle dag afgestaan vir die probleemvakke soos Rekeningkunde, waarin hy ’n A-simbool verwerf het. Hy het ook onderskeidings behaal in Afrikaans, Engels, Wiskunde en Ekonomie. Gary het hom egter nie net agter die boeke bevind nie, maar het ook die hele jaar basketbal en sokker met vriende gespeel. Hy hou ook daarvan om in sy vrye tyd met die rekenaar of Playstation 2 speletjies te speel. Gary het reeds ’n werwingsbeurs van die Universiteit van Stellenbosch gekry en sal die graad B.Com (Rekeningkunde) vanjaar aanpak. “Ek wil graag eendag my voorspoed terugploeg in my gesin om my ouers te bedank vir alles wat hulle vir my gedoen het. Ek sal nooit my familie wil vergeet nie”. Hy is die oudste seun van drie kinders. Sy ma, Jolene, en pa, Gerrit, was uit hulle velle van blydskap toe hul hoor van hul seun se prestasie. Die gesin woon in ’n opslaanhuis in Hillcrest, Wellington. Ten spyte daarvan dat hy moes leer in ’n omgewing waar harde musiek gereeld gespeel word, het hy deurgedruk. Gary het matrikulante wat nie suksesvol was in 2008 se eksamen nie, aangespoor om in Maart hul eksamens te herhaal en die beste daarvan te maak. Hierdie seun glo dat elkeen opofferings moet maak en om sekere dinge in die lewe prys te gee om sukses te behaal. “’n Mens druip slegs ’n toets in die lewe as jy nie wil probeer nie,” sê hy. ’n Trotse Anthony Cavernelis, Gary se ekonomie-onderwyser, sê dat Gary ’n stil en voorbeeldige leerder was, wat baie hard gewerk het.
More
News
|