Bekendes (en hul films) by fees
2009-01-15
DIE tweede Kaapse Wynland-filmfees wat deur bekende internasionale filmregisseurs bygewoon gaan word, vind van 21 tot 29 Maart op Stellenbosch plaas. Leon van der Merwe, feesdirekteur, sê daar gaan ongeveer 112 films by die fees vertoon word. Oude Libertas-amfiteater is die feeskern wat saam met ses ander lokale gebruik gaan word. “Behalwe dat ons ’n venster op wêreldfilm (world cinema) wil gee, probeer ons ook om die Suid-Afrikaanse filmkykersgetalle te stimuleer en te bevorder,” sê hy. Bekende regisseurs by die fees sluit in die Portugese filmregisseur, Manoel de Oliveira, wat in Desember sy 100ste verjaarsdag gevier het en nog steeds films maak. Oliveira sal tydens die fees ’n toekenning vir lewensbydrae ontvang. Die Brasiliaanse filmregisseur Kleber Mendoca Filho, wie se dokumentêre film Critico ook by die fees vertoon word, sal ook by die fees teenwoordig wees. Verskeie lede van die HFPA (Golden Globes in Hollywood) het alreeds hulle hotelverblyf bespreek om seker te maak hulle kry plek by die fees. Nog ’n bekende is die Iranese film- regisseur en Cannes Pryswenner, Bhaman Ghobadi, wat bekendheid verwerf het vir sy films A Time for Drunken Horses (2000), Turtles Can Fly (2004) en Half Moon (2006). Sy film, Turtles Can Fly, sal op die fees vertoon word. Die filmfees gaan ook hulde bring aan die Egiptiese rolprentregisseur, Youssef Chahine, wat onlangs oorlede is. Sy films Alexandria…Why?, An Egyptian Story, Alexandria Again and Forever gaan vertoon word. Die filmprogram sluit flieks in die volgende kategorieë in - World Cinema: Stolen Kisses (Egipte), Antarctica (Israel), Country Hotel (Thailand), Critico (Brasilië) en The first Day of Winter (Italië). Eco Cinema: Twee dokumentêre rolprente genaamd Milking the Rhino en Turtle man of Watamu, en ‘n Afrikaanse dokumentêre werk, The Shaman’s Apprentice. Art in Film: Rising Tide, ’n film wat handel oor die oplewing in kuns in China en LA Unfinished wat handel oor die kuns in die Balkan Lande. Cinema of Conscience: Die film Behind the Convent wat handel oor die Rwanda menseslagting en ook Children of Congo: From War to Witches. Suid-Afrikaanse premières: White Wedding deur Jann Turner, Tornado and the Khalahari Horse Whisperer deur Regardt van den Bergh. Vanjaar fokus die filmfees op verskeie lande ondermeer Nederland, Brasilië, Frankryk, Griekeland, Portugal en Italië.
More
News
|