Ses-aan-’n-kant krieketdag te Wellington
2009-01-15
OP 24 Januarie bied Wellington Krieketklub hul 22ste geborgde ses-aan-’n-kant krieketdag te Pen Basson-veld, Wellington, aan. Na baie jare se harde werk kan daar vandag met trots gesê word dat dié krieketdag die grootste kriekettoernooi van sy soort in die Wes-Kaap is. Die dag bestaan uit sestien spanne, en hul familie en vriende, wat die dag saam gaan geniet op een van die mooiste velde in die Boland. Die spanne begin om 08:30 die oggend en die plaat en finaal begin so vanaf 16:00 in die middag. Toeskouers kan groot sesse en stylvolle viere verwag. Vir die spanne wat presteer, is daar ook groot pryse te wen. Deur die dag is worsrolletjies, pasteie, broodjies, pannekoeke, koeldranke en vele meer beskikbaar. Vir die kinders is daar ook springkastele. Inwoners van Paarl en Wellington en die hele Boland word uitgenooi om die dag saam met Wellington Krieketklub te geniet. Bring die vrou, ouma en die kinders en geniet goeie krieket, ’n feestelike atmosfeer en heerlike verversings.
More
News
|