Grootmensskoene vir Breytenbach-sentrum
2009-01-15
Johan Nel
Die Breytenbach-sentrum trek vanjaar sy grootmensskoene as ’n unieke en volwaardige kultuursentrum vir Wellington en omgewing aan. Volgens Theo Kemp, bestuurder van die sentrum, kon hulle vir 2009 ’n jaarprogram ontwikkel wat aan die inwoners van Wellington en omstreke maand na maand ’n ryk oes van optredes deur van die land se voorste kunstenaars bied. Onder die top-kunstenaars wat vanjaar indie Bôrdienghuis-teaterkafee optree, is Anton Goosen, Valiant Swart, Lize Beekman en Gian Groen. Die hoogtepunt van die jaar is Paradys 2009, wat vanjaar tussen 14 en 20 September by die sentrum aangebied word om te val met Breyten Breytenbach se 70ste verjaardagviering op 16 September. Dit sal bestaan uit ’n simposium rondom Breyten se werk wat opgeneem sal word in ’n spesiale “verjaardaguitgawe” van die Tydskrif vir Letterkunde. Daar sal ook ’n musiekteater-produksie met Johann Nel en Laurinda Hofmeyer aangebied word, plus ’n Breyten-drama, ’n opdragstuk oor Breyten Breytenbach wat onder spelleiding van Saartjie Botha aangebied gaan word. Die dramagroep wat dit aanbied, sal uit die gemeenskap van Wellington saamgestel word en by die sentrum opgelei word. Van die ander gemeenskapsprojekte wat deur die sentrum aangebied word, sal ingespan word om te sorg vir die dekor en kostumering vir die opdragstuk. ’n Foto-uitstalling deur Cloete Breytenbach sal ook deel van die feesvieringe wees. Die sentrum beplan om vanjaar baie nou met die organiseerders van die gewilde Kabaretmania van Stellenbosch saam te werk. Wellingtonners sal ook aan ’n kabaretwerkswinkel saam met bekende kabaretkunstenaars soos Elzabe Zietsman by die sentrum kan deelneem. Hulle sal ’n nuwe kabaretteks instudeer wat uiteindelik by Kabaretmania 2009 op Stellenbosch opgevoer sal word. Opwindende gemeenskapsprojekte word vir 2009 in die vooruitsig gestel. Die groep plaaswerkervroue wat verlede jaar opgelei is om mosaïekwerk te doen, gaan vanjaar aansienlik uitgebrei word. Die groep is tans besig om hul eie onderneming te stig en hul produkte sal onder meer by die Bôrdienghuis verkoop word. Die geletterdheidsklasse van die sentrum gaan uitgebrei word om veel meer nie-geletterdes in en om Wellington te bereik. Spliternuwe gemeenskapsprojek by die sentrum is die beroepskursusse wat deur die Stigting vir Bemagtiging deur Afrikaans aangebied gaan word. Vanaf 4 Februarie sal werkloses kursusse in skoonheidsterapie en handvaardighede gratis hier kan bywoon. Lize Briedenhann sal vanaf Februarie dramaklasse by die sentrum aanbied en die Stellenbosch Taalskool bied Xhosa-klasse vir beginners. George Meyer se gewilde gratis kunsklasse word verder uitgebrei om meer skoliere veral tydens skoolvakansies te akkommodeer. Mariette van Velden se Lukhanyo-musiekgroep sal vanjaar saam met die Mbekweni Black Bafanas by die sentrum ingespan word om kinders te help om musiekteorie en die verskillende musiekstyle aan te leer.
More
News
|