Paarliete stoei teen weer tydens Trans Agulhas
2009-01-15
SOOS oudergewoonte die geval is, het vanjaar se PSPG Trans Agulhas weer in Desember plaasgevind, vir die 21ste keer. Met die swak ekonomiese omstandighede was daar slegs 36 bote in die vier verskillende P750 klasse (Beginners, Standaardklas, Blueprintklas en Gemodifiseerde klas). Die wedvaart het op 28 Desember die oggend 08:00 van Hobiestrand in Plettenbergbaai begin in gure weer. Nadat heelwat bote in die mis weggeraak het, is die wedren gestop en die bote kant toe gebring met die hulp van veiligheidsbote. Die span van Conticrete is eers gevind na ’n soektog van meer as twee uur. Die gure weer wou net nie die deelnemers en organiseerders ’n blaaskans gee nie en woeste en gevaarlike see-omstandighede het tot en met die oggend van die vyfde dag die spanne verniel. Van die 36 spanne wat begin het, het slegs 18 die wedvaart voltooi. Van die Viking-span het een van die lede sy arm gebreek terwyl Stef Olivier van PSPG sy ribbes gebreek het. Baie van die spanne moes ook behandel word vir kleiner beserings. Die Paarliet Wimpie Ackermann van Imperial Cargo het vanjaar in sy sewentiende agtereenvolgende Trans Agulhas deelgeneem - meer as enige ander deelnemer. Hy het na afloop van die wedvaart ’n toekenning van PSPG ontvang vir sy toegewydheid aan die byeenkoms. “Ek voel geëerd oor hierdie toekenning. Hierdie Agulhas was die hardste en rofste in jare. Maar dié is darem nie verniet die gehardste motoriese opblaasboot-wedvaart in die wêreld nie.” Die weer het darem nie die toeskouers weg van die strande gehou nie en meer as 100 000 toeskouers het die wedvaart oor die vyf dae dopgehou. Die span van Wellington, bestaande uit Steyn Basson en Jan Kriel, het deelgeneem in die P750 Blueprintklas. Die span het gejaag vir Bata Industrials en Bell Equipment. Dié span het vanjaar die wedren vir die vierde keer voltooi. Met ’n vyfde plek het dinge egter nie verloop soos wat hulle gehoop het nie. Die onderskeie wenners van die Trans Agulhas was Wynand van Schalkwyk en Howard Barret van The Beach House (P750 Beginnersklas), Eugene Vorster en Kosie Taljaard van Wild Africa Cream (P750 Standaardklas), Dreyer van Niekerk en Jaco Kotze van Nexus (P750 Blueprintklas) en Dave Barnet en Tjaart Oosthuizen van Gemini/Marlow Trio Transport (P750 gemodifiseerde klas). Die volgende wedren vind plaas op 30 en 31 Januarie te Kwaggaskloof naby Worcester. Vir meer inligting, besoek www.transagulhaschallenge.co.za.
More
News
|