Woelig in die water
2009-01-15
Jaco van Wyk
DIE jong swemmer van Paarl Aquarius, Nina Hess, het verlede week haar land met welslae verteenwoordig tydens die Afrika Swemkonfederasie (Cana) Sone 4 internasionale swemkampioenskappe wat in Johannesburg aangebied is. Die 12-jarige leerder van La Ro- chelle Laerskool het uitgetroon tydens dié kampioenskap waartydens Suid-Afrika maklik koning gekraai het oor twaalf ander lande, insluitend Zimbabwe, Namibië en Botswana. Nina het haar afrigter, Isaac Kock, baie trots gemaak toe sy na afloop van die kampioenskap aangewys is as die beste o.12 swemmer deur die Victrix Ludorum-toekenning in te palm in haar ouderdomsgroep. Nina het goue medaljes verower in die 50m borsslag, 100m borsslag, 50m vlinderslag, 100m vlinderslag en 200m wisselslag. Sy het ook ’n bronsmedalje gewen in die 400m vryslag. Met haar uitstekende vertonings tydens dié kampioenskappe het Nina gekwalifiseer om in drie items deel te neem by die Vlak 3 Ouderdomsgroep kampioenskappe wat later vanjaar by Sasolburg gaan plaasvind. Suid-Afrika het, danksy puik talent soos Nina, water in al sy teenstanders se oë geskop. SA het altesaam 151 medaljes (1999,5 punte) ingeryg om lag-lag die kampioenskap te wen. Tweede was Zimbabwe met 72 medaljes (1194,5 punte) en derde was Zambië met 31 medaljes (738 punte). Volgens Nina is haar uitstekende prestasies te danke aan harde werk, goeie afrigting en ’n liefde vir swem. “Ek oefen elke weeksdag, van Maandag tot Vrydag. Dit is baie harde werk, maar iets wat ek ongelooflik geniet. “Die beste deel van swem is al die vriende wat ’n mens maak en net die feit dat mens in die water kan wees.” Nina het al vanaf agt-jarige ouderdom in kompetisies begin deelneem. Tydens die WPA Sasko kampioenskappe wat in Desember by UWK gehou was, het Nina ook haar teenwoordigheid laat geld deur een goue medalje, vier silwer medaljes en een brons medalje te verower.
More
News
|