Leefstyl-dagboek
2009-01-15
*Xhosa-kursus. Die Stellenbosch Taalskool bied vanaf Februarie ’n 30-uur lange kompakte Xhosa-kursus vir beginners aan. Hierdie kursus sal op Saterdae aangebied word en het ten doel om deelnemers ’n basiese kommunikatiewe Xhosa aan te leer. Die styl van aanbieding is ontspanne en onkonvensioneel en veral ingestel op die ontwikkeling van laterale denke. Kursusfooie is R870 (10 sessies en alle materiaal ingesluit). Vir meer besonderhede, skakel 021-873-2786. * Lees en skryf. Deur die ondersteuning van die LW Hiemstra Trust, bied die Breytenbach-sentrum op Wellington vanjaar ’n gratis kursus aan vir volwasse nie-geletterdes. Die kursus begin in Februarie. Ria Olivier, wat reeds groot sukses behaal het met veral plaaswerkersgroepe, bied hierdie kursus aan. Die uitgangspunt van die kursus is om mense meer te bied as om net te leer lees en skryf in Afrikaans, maar om handvaardighede te slyp en mense te leer hoe om kreatief hul eie lewensomstandighede te verbeter. Skakel 021-873-2786 vir meer inligting. * Werkloses. In samewerking met die Stigting vir Bemagtiging deur Afrikaans (SBA) bied die Breytenbach-sentrum beroepsgefokusde kursusse in onder meer skoonheidskunde en dagsorg aan vir werkloses van 18 jaar en ouer. Hierdie kursusse duur nege maande, waarna die deelnemers ’n sertifikaat ontvang. In die verlede is gevind dat meer as 80% van die deelnemers wel werke vind nadat hulle hierdie kursusse gevolg het. Skakel 021-873-2786 vir meer inligting.
More
News
|