ALHOEWEL die gemiddelde weiering van verbandsaansoeke by die eerste instelling waar aansoek gedoen word, meer as 50% is, is die eiendomsmark in Paarl en Wellington glad nie in ’n doodloopstraat nie.
Verkope van residensiële eiendom is 30% swakker in teenstelling met verlede jaar, terwyl kopers baie versigtiger is as ’n jaar gelede. Intussen verkoop plase, wat veral in die leefstylmark gewild is, baie goed.
Vertragings en kansellasies van transaksies vind wel meer dikwels plaas, erken agente. Hulle skryf dit toe daaraan dat daar in sekere gevalle by ’n derde en vierde instelling aansoek gedoen moet word, maar eiendomsagente in Paarl is dit eens dat die afplatting in besigheid, nie die einde beteken nie.
Woordvoerders van vier toonaangewende eiendomsagente in Paarl (Pam Golding, Seeff, Rawson en Hanlie’s Eiendomme) asook Realtors International in Wellington, is van mening dat daar baie meer beskikbare eiendomme is as in die dieselfde tyd verlede jaar.
Agentskappe hier is ook nie bekommerd dat agente die bedryf verlaat nie. In sekere gevalle is meer aanstellings gedoen.
“Kliënte werk twee keer hulle somme uit voor hulle finaal besluit, waar die kopers hierdie tyd verlede jaar nie so versigtig opgetree het nie,” sê Lizette Joubert van Rawson Properties.
“Ons het baie meer eiendomme beskikbaar in die mark as dieselfde tyd verlede jaar. Baie huiseienaars het dit begin moeilik vind om by te bly by die rentekoersverhogings en daar was ook baie paniek onder verbruikers met betrekking tot die ekonomie.
“Ons sien dat die goedkoper eiendomme tussen R800 000 en R1 200 000 die afgelope tyd baie goed verkoop het.
“ Kleinhoewes is op groot aanvraag en ons sien dat veral kliënte vanuit die stad kleinhoewes en groter plotte soek,” sê sy.
“Verkopers is baie meer realisties oor hulle eiendom se bemarkingsprys. Hulle is baie meer ingelig rondom die huidige marksituasie.
“Kopers wat nou die beste koop doen, is dié wat met kontant in die hand sit. Hulle soek die beste waarde vir hulle geld,” sê sy.
Hanlie de Waal, van Hanlie’s Eiendomme, is van mening dat die versigtigheid van voornemende kopers toegeskryf kan word aan die swak ekonomie, rentekoerse en die bekostigbaarheid van eiendom.
“Eiendomme is ook baie langer in die mark, veral oor oorprysde eiendomme. Jou goedkoper mark van R700 000 tot R1 miljoen is baie onder druk as gevolg van die veel moeiliker voorwaardes waarop lenings nou toegestaan word.
“Die hoër prysklas verkoop beslis makliker. Jou middelprysklas van R1 300 000 tot R1 800 000 is ook moeiliker.
“Daar is beslis meer eiendomme in die mark, omdat eiendomme baie lank neem om te verkoop. Deur al die jare weet ons dat kopers nie ’n baie groot keuse in elke spesifieke prysklas in die Paarl het nie.
“Om waarborge te lewer vat soms bietjie langer as gevolg van die streng vereistes van die banke, maar tans verloop die transaksies vlot.
“Voornemende verkopers hoef nie bekommerd te wees om hul huise in die mark te sit nie nie. Daar sal nog altyd ’n groot aanvraag na eiendomme in die Paarl wees.
“Eiendom moet egter reg geprys wees - die regte prys vir die regte huis en die regte adres. Die kanse is skraal dat jy nou jou eiendom kan verkoop bo die markverwante waarde,” sê sy.
Surina du Toit van Pam Golding is ook van mening dat eiendomme wat reg geprys is, gouer sal verkoop.
“Vir verkopers is dit baie belangrik in die huidige mark om hulle eiendom in die mark te sit teen die regte verkoopprys. In die huidige mark sien ons dat eiendomme wat reggeprys is, wel verkoop.
“Alhoewel die eiendomsmark in die algemeen ongeveer met 30% af is, doen die plaasmark tans baie goed.Maryn en Dawie Scholtz van Seeff sê die groot verskil tussen hierdie tyd verlede jaar en vanjaar is dat die mark verlede jaar hierdie tyd op pad afwaarts was, ná die grootste insinking in drie dekades. Dinge is nou besig om te verbeter.
“Eiendomme wat verkoop wissel baie, maar daar is definitief meer kopers beskikbaar in die prysklas van R1 miljoen tot R2 miljoen as in die heelwat duurder prysklasse. Verkope vind wel plaas oor al die prysvlakke.
“In die plaasbesigheid is daar beslis baie aktiwiteite in veral die leefstyl-afdeling. Dit lyk asof die moeiliker markomgewing nie die mark vir leefstylplase baie beïnvloed het nie,” sê hulle.
“Die eiendomsmark is definitief aan die verbeter. Met rentekoerse op pad af, inflasie aan die daal en algemene vertroue hopelik aan die verbeter gedurende 2009, kan ons meer positief wees,” sê hulle.
Ook vir Realtors International in Wellington is die prentjie nie so duister nie. .
“Die mark is wel baie stadiger as verlede jaar, maar ons het alle agente behou,” sê Carmen Schoeman.
“Eiendomme van R1,2 miljoen tot R1,5 miljoen verkoop beter, en nie noodwendig die goedkoper eiendomme nie. Ons kry wel baie kontantaanbiedinge vir huise.
“Dit is verblydend dat banke vir huiseienaars wat swaar gekry het, tegemoet gekom het deur vir periodes van twee tot ses maande slegs 60 % tot 80% van hul huidige verband paaiemente te verhaal,” sê sy.