Tienman-rugbyspan word gesoek
2009-01-22
’n SPLINTERNUWE tienman-rugbytoernooi skop binnekort af in Kaapstad waar daar ’n span vanuit die Drakenstein-omgewing (met die hooffokus op Paarl, Wellington en Franschhoek) ingeskryf sal word om sy stem dik te maak. Die toernooi, wat georganiseer word deur die Springboklegendes Bobby Skinstad en Robbie Fleck, asook die All Black kragman, Kees Meeuws, vind plaas op 7 en 8 Februarie by Hamiltons Rugbyklub. Die span vanuit die Drakenstein, wat bekend sal staan as die Hillcrest Tigers, doen ’n beroep op alle klubs in die omgewing om drie spelers te nomineer om proewe te speel. Ná die proewe sal ’n groep van vyftien spelers gekies word om in die top liga van die toernooi deel te neem. Verskeie internasionale spanne sal ook in aksie wees en ’n paar groot name behoort by die toernooi gewaar te word. Om ’n span in te skryf beloop R8000, maar die organiseerders het aangebied om al die kostes te dek indien die Tigers ’n mededingende span kan inskryf. Om spelers te nomineer kan Adanaan Arnold gekontak word by 073-164-0816. Die groep beoog om Maandag (26 Januarie) reeds saam te trek vir die eerste oefening. Besoek capetowntens.com vir meer inligting rakende die toernooi.
More
News
|