Thursday 22 September 2011

This site will be updated on 30 September 2011


 

 



Search WWW
Search Paarlpost

 


Mishandelde vroue kry hier hulp

Mishandelde vroue kry hier hulp
 
2009-01-22

Liezl Dyson

DIE Athlone House of Strength (Ahos), ’n nie-regeringsorganisasie, het sedert November reeds 18 getraumatiseerde vroue en kinders gehuisves.

Die sentrum is amptelik op 9 Desember geopen en strewe daarna om ’n stabiele en veilige omgewing vir verwaarloosde en mishandelde vroue en kinders te voorsien.

Volgens Bessie Pretorius, die sentrumbestuurder, word die meeste van die mishandelde vroue wat by hulle skuiling kom soek, deur Paarl Hospitaal verwys.

Ahos gee berading aan die slagoffers vir solank as wat die gesin dit nodig het en verseker dat hulle hulp kry wanneer hulle terug huis toe moet gaan.

Pretorius het gesê daar is vroue wat so erg mishandel word, dat hulle na die ongevalle-eenheid by die hospitaal gehaas moet word. Kort voor Kersfees het hulle ’n vrou wat deur haar man met ‘n mes gesteek is, opgeneem.

“Die personeel by die hospitaal kan baie keer sien dat die vrou nie terug na haar omstandighede kan gaan nie, omdat dit haar of haar kinders se lewe kan kos. Die vrou word dan na ons verwys,” het Pretorius gesê.

Mishandelde vroue is egter nie altyd onskuldig nie en Ahos het al gevalle teëgekom waar die man of vrou of beide partye alkohol en dwelms misbruik.

“Alkohol- en dwelmmisbruik speel ’n groot rol in die mishandeling van vroue en kinders, maar daar is gevalle waar die vrou onskuldig is en sy steeds deur haar man of lewensmaat mishandel word. In die meeste gevalle van mishandeling kom die kinders die slegste daarvan af.”

Net voor Kersfees is ’n swanger vrou en haar vyf kinders ook daar gehuisves. Ahos het vir die tydperk wat hulle daar is, berading vir die vrou en haar kinders gebied en met haar man in aanraking gekom om presies vas te stel wat die probleem is en hoe om dit te verbeter.

Die vrou en haar kinders kan huis toe gaan sodra versoening plaasgevind het en dit veilig vir beide ma en kinders is om terug te gaan.

Volgens Pretorius word verskeie organisasie dan betrek om te verseker dat die vrou en haar kinders nie verder mishandel word nie.

“Vir ons is dit uiters belangrik om in die mishandelde vrou en kind se behoeftes te voorsien en te verseker dat hulle teruggaan na verbeterde omstandighede.”

Ahos het ook vir elke vrou en kind wat sedert November daar is, bederf met ’n lekker Kersete.

“Ons het vir die kinders geskenkies gekoop en ons het ook van die publiek geskenkies ontvang en dit onder ’n Kersboom geplaas sodat die kinders ’n Kersfees kon hê wat altyd by hulle sal bly.”

Ahos het ook die Holland Childcare kleuterskool op hul perseel. Dié kleuterskool maak voorsiening vir die kinders van mishandelde vroue wat daar bly, maar enige ouer kan hul kind daar kom inskryf.

’n Tweede fase word ook gebou waar vroue wat nie terug na hul omstandighede wil gaan nie, kan bly. Die vrou moet dan vir haar ’n werk kry indien sy nie een het nie, en kan dan daar vir haar en haar kinders sorg.

Vanaf 2 Februarie bied hulle ook naaldwerkklasse vir vroue aan om hulle te bemagtig.

Die organisasie doen ’n beroep op alle mishandelde vroue om na vore te kom en nie langer stil te bly nie.

Indien enigeen belang stel om die naaldwerkklasse by te woon of om hul kinders in die kleuterskool te plaas, of graag ’n donasie wil maak, kan hulle Pretorius by 021-862 9983 of 084-662-5343 skakel.




More News
  • Natural burials arrive in South Africa
  • Lofprysing Oppiberg
  • Bonsai Kai vergader
  • Benefit concert
  • Have a lazy day braai
  • Staan op in moeilike tye
  • Boeresport by fondsinsamelingsdag
  • Local schools shine in debate
  •  
        [ Top ] Tel: (021) 870-4600    email: edit@paarlpost.co.za