Starlites vaar strate sing-sing in
2009-01-22
Devidean Moses
"HIER kom die Alabama” en vele ander liedjies het Saterdag in die Paarlse strate weerklink toe die Starlites klopsegroep, ’n jeugontwikkelingsprojek, Saterdagmiddag sing-sing en dans-dans die strate van Paarl-Oos ingevaar het. Twee weke voor die Nuwe Jaar aangebreek het, het Naziem Benjamin, eienaar van ’n bekende busdiens, besluit om plaaslike jeugdiges besig te hou deur ’n klopsegroep te begin. Altesame 300 jeugdiges is nou betrek. Volgens Naziem kom sy inspirasie van sy pa, Mogamat Zain, wat 39 jaar gelede saam met sy ander drie seuns die Starlights Maleierkoor in Kaapstad begin het. Naziem het sover as Agter-Paarl en Paarl-Oos die strate ingevaar met sy busse om na hierdie kinders te soek. Dit het hom so opgewonde gemaak toe hy sien dat sy plan van aksie suksesvol was, nadat sowat 300 kinders en volwassenes deel van die groep geword het en elke dag meer word. Hy het ook al 300 lede se uitrustings geskenk. “My pa het geglo dat ’n mens moet terugploeg in die gemeenskap.” Volgens Naziem is die ouers en kinders opgewonde oor die groep wat gestig is, omdat dit vreugde in die huisgesinne bring. Hy meen ook dat dit die kinders se selfvertroue en kommunikasievermoë verbeter en dat hulle minder kattekwaad aanvang as hulle met die oefeninge besig gehou word. Naziem en sy span gee hierdie opleiding gratis by Paarlzicht Primęr se sportveld. “Die kinders het so opgewonde geraak toe ons op Tweede Nuwejaar aan die klopse-optog in Kaapstad deelgeneem het. “Van hierdie kinders was nog nooit vantevore daar of by die see nie, en dit het my hart so bly gemaak toe ek daardie gesigte sien wat van blydskap straal.” Enigeen wat deel wil word van die groep, kan Naziem skakel by 021-862-7148 of 082-571-7861.
More
News
|