Peoples se Dominique Daniels moker 100 lopies
2009-01-22
YOUNG PEOPLES het Saterdag die nuwe jaar op ’n vars noot begin deur goeie oorwinnings oor hul opponente te behaal. Die manne het sodoende net die regte voorbereiding gekry vir die liga-wedstryde wat dié naweek afskop. Peoples se eerste span het hul kragmeting met Piketberg, op Daljosafat se A-veld, met 121 lopies gewen danksy ’n skitterende honderdtal deur Dominic Daniels (114 lopies van 124 balle, 10x4; 3x6). Hy was goed bygestaan deur Brendon Adams (87, 7x4). Peoples het uiteindelik ’n goeie totaal van 260/6 in 45 boulbeurte behaal. Peoples se veldwerk was baie goed en tesame met akkurate boulwerk het die tuisspan vir Piketberg beperk tot 139 almal uit. Peoples se Lester Opperman (3/15 in 6bb), Brendon Adams (3/24 in 6bb) en Jarier Alexander (2/16 in 4bb) het die paaltjies laat kantel. Op die B-veld het die tweede span ook sukses behaal deur vir Coronations II met 102 lopies te klop. Peoples het eerste gekolf en 243/3 behaal na 45 boulbeurte, danksy ’n fantastiese beurt deur Ian Grey (90, 12x4 en 2x6). Ashfaq Ahmed (28, 3x4), Lindsey Davy (47, 4x4) en Junaid Cassiem (52*, 5x4) het ook goeie vertonings gelewer. Peoples se Riaan Damonse (4/22 in 6bb) was verwoestend met die bal in die hand. Saterdag begin die tweede ronde van die liga-kompetisie weer in alle erns wanneer die eerste span tuis speel teen Bergrivier. Die tweede span speel weg teen Bergrivier II. Peoples III speel weer op 31 Januarie 2009.
More
News
|