VASGEANKER aan twee takkies ontdek ek die klein nessie van ’n glasogie. Ek kan die nessie met my duim en middelvinger omarm.
Na ’n paar dae broei vier donsige bondeltjies uit. Elkeen word sorgvuldig deur die ouers gevoer. Die bolletjies wat in die nessie is, word ook deur hulle verwyder.
Die kleintjies was nog vol donsies toe hulle op wankelrige beentjies opstaan, beweeg na die kant van die nessie en die bolletjies aan die buitekant van die nessie los. Die slim mense sê dit is maar instink.
Na net meer as twee weke verlaat die voëltjies die nessie, skoon soos die dag wat hy gemaak is.
Behalwe ons sintuie het ons ook die gawe van reg of verkeerd ontvang wat ons leer deur dissipline, verantwoordelikheid, ordelikheid, reëls en regulasies.
Op ’n onomkeerbare wyse is ons besig om ons nessie (die aarde) en mekaar te bevuil.
Ons kry dit maklik reg, want ons ordelikheid het verdwyn in ’n ooraanbod van regte.
Hoe lyk ons mooi dorp aan die einde van die week? Sê cholera nie vir ons iets nie?
Die plakkershut op die rivier se wal het meer reg as die inwoners laer af wat die rioolwater moet drink!
Groot maatskappye het nie respek vir die man in die straat wat net van brood lewe nie. Die prys van die brood word gemanipuleer.
Ons bevuil sommer ons skool en ook die onderwyser. Dié wou blykbaar net van die kind weet of dit sy eie werk is. Die staatsdepartemente met die hulp van die regering het geen respek vir inheemse taal nie. Ons drink tee in Afrikaans, verder moet ons Engels afwurg of jy nou daarvan hou of nie.
Dit gaan nog met ons goed. Ons sal net ernstig aan ons instink moet aandag gee. Gawie Malherbe