Droom oor skoon water waar
2009-01-22
Johan Nel
DIE lank gekoesterde droom van tientalle Wellingtonse plaasbewoners om skoon, vars drinkwater uit die krane in hul woonhuise te sien vloei, gaan binnekort bewaarheid word. Volgens André Malan, voorsitter van die Wellingtonse Landbouvereniging, het tientalle Wellingtonse plase langs die Bergrivier die afgelope klomp jare toenemend probleme begin ondervind om suiwer drinkwater in die plaasbewoners se huise te kry. Water uit boorgate is dikwels ontoereikend en erg brak, en toenemende besoedeling maak dat drinkwater nie uit die Bergrivier onttrek kan word nie. Baie plaasmense ry hul drinkwater uit Wellington aan en probeer om met spesiale suiweringstoestelle in plaaswerkers se drinkwaterbehoeftes te voorsien. Vertoë dat vars, gesuiwerde drinkwater met ’n toevoerpyp vanaf die Voëlvleidam na meer as 2000 mense op ongeveer 70 plase aan die oostekant en westekant van die Bergrivier by Wellington geneem word, is sedert 2002 deur Pierre-Jean Gerber (ANC-parlementslid) en lede van ’n sub-komitee van die Wellingtonse landbouvereniging aan die departement van waterwese en die Wynlanddistriksraad gerig. Die vertoë het uitgeloop op ’n verslag wat deur ’n span raadgewende ingenieurs vir die distriksraad opgestel is en wat aanbeveel het dat ’n pypleiding vanaf die Voëlvleidam aan beide kante van die rivier na die plase gelê word. Die pypleiding sal drinkwater verskaf aan plase rondom Hermon en af langs die spoorlyn tot anderkant Malanstasie en aan die westekant van die Bergrivier tot anderkant Lady Loch Die projek, wat etlike miljoene rand sal kos, sal deur die betrokke grondeienaars en die distriksraad gefinansier word. ’n Finale tender vir die bou van die pyplyn is tans in die finale stadium van afhandeling en bouwerk sal later in die jaar kan begin. Voorlopige aanduidings is dat dit grondeienaars nagenoeg R5 500 sal kos vir ’n aansluiting wat 1000 liter drinkwater per dag aan ’n plaas sal lewer.
More
News
|