Fees van Afrikaanse teater en skrywers
2005-07-28
’n PAAR besondere geleenthede vind vanjaar weer tydens Afrikaansweek van 8 tot 14 Augustus in die Paarl plaas.
Cape Heart Teatergroep bring een van die juwele in die Afrikaanse literatuur na die Paarl: Adam Small se klassieke verhoogstuk “Kanna Hy Kô Hystoe” word op 8 en 9 Augustus om 19:00 in die Paarl Gimnasium Ouditorium aangebied.
Die regie word deur Royston Stoffels behartig. Kaartjies kos R38 (R28 vir skoliere en pensioentrekkers).
Kaartjies kan by Shoprite of Checkers se Money Markets gekoop word of by www.ticketshop.co.za.
Die Afrikaanse Taalmuseum en die Wes-Kaapse Teatergeselskap bied op 9 Augustus ter ere van Vrouedag ’n Peter Voges vertoning, “Tee met die tannies”, in die Taalmuseum Historium aan.
Die vertoning begin om 09:30 vir 10:00 en kaartjies kos R10 elk. Voorafbespreking is noodsaaklik by Natasha-Lee Bushby by die Afrikaanse Taalmuseum tel 872-3441.
Op Woensdag 10 Augustus bied die Vriende van Afrikaans (VVA) Paarl-tak die Kanna-bekroonde opvoering “Lief-lief deur Afrikaans”, met Johann Nel en Joanie Combrink om 19:30 in die Paarl Gimnasium Ouditorium aan.
Die regie word deur Juanita Swanepoel behartig. Kaartjies kos R40 (R25 vir skoliere).
Bespreek by Elsa Olivier van die VVA Paarl-tak by 863-3839. Kaartjies is ook te koop by die Afrikaanse Taalmuseum in Pastorielaan.
Op Vrydag 12 Augustus vind ’n voorleesaand deur lede van die Afrikaanse Skrywersvereniging en ander skrywers by die Taalmuseum Historium plaas.
Dit begin om 19:00 vir 19:30 en toegang is gratis. Gevestigde én aspirantskrywers word uitgenooi om uit hulle werke te kom voorlees en moet vir Petro Rhode by 862-9874 skakel om hul deelname te bevestig.
Op Saterdag 13 Augustus bied die Daljosafat Leeskring ’n skrywersmiddag met Marlene van Niekerk aan by Lemoenkloof Gastehuis.
Dié gewilde en bekroonde skrywer sal oor haar boek “Agaat” gesels. Kaartjies kos R30 en dit sluit ook ’n ligte middagete in.
Die funksie begin om 11:30 vir 12:00. Bespreek by Christine Joubert by 862-8133 of by Heath Joubert by 872-5411.
’n Interkerklike byeenkoms vind op Sondag 14 Augustus (GRA-dag) om 09:30 in die Paarl se Toringkerk plaas, aangebied deur die VVA Paarl-tak in samewerking met die Toringkerk.
Ds Gerrit Kritzinger, die nuwe voorsitter van die Wêreldraad van Bybelgenootskappe, sal by die geleentheid optree. Kontak Elsa Olivier by 863-3839 vir meer inligting.
More
News
|