EK is baie ontevrede met die swak diens by die nuwe polisiestasie in Paarl-Oos.
Nuwejaarsoggend moes ek verneem van my selfoon wat gesteel is uit die huis. Nadat my vrou die inbreker gewaar het en ek hom tevergeefs agternagesit het, het ek besluit om maar die onderspit te delf en die selfoon by die polisie te gaan aanmeld as gesteel.
By die Paarl-Oos polisiestasie is ek meegedeel dat ek eers die foon moet ‘blacklist’ en dan maar weer moet kom aanmeld.
Ek was baie beïndruk toe aan my gesê is dat ek nie hoef polisiestasie toe te kom nie, maar dat ek net hoef te skakel en ’n polisiebeampte sal tot by my kom.
Op pad huis toe gewaar ek iemand wat voldoen aan die beskrywing van die dief. Ek konfronteer toe die man wat hom toe verset en in die rigting van Chicago loop.
Met my motor wat toe nog luier in die pad, besluit ek toe om te ry na die polisiestasie vir hulp. Toe ek by die polisiestasie inry, gewaar ek ’n polisieman op pad uit.
Hy is toe saam met my na waar ek die verdagte gesien het. Daar aangekom (sowat 500m van die polisiestasie) sê konstabel Hufke dat hy my nie verder kan help nie, maar dat hy die aangewese beampte moet skakel wie se sone dit is. Dié is toe glo besig met ’n ander klag, maar ek moes daar wag tot wanneer hy eendag daar opdaag.
Toe ek konstabel Hufke vra of hy my nie kan vergesel om net te help soek nie is ek meegedeel dat hy nie dit kan doen nie en op pad is om iemand te gaan haal.
Moet seker ’n baie belangrike persoon wees? Belangriker as my ou noodjie...
Ek besluit toe om terug te keer na die polisiestasie. Ek vra toe om die kaptein aan bevel te sien om uiting te gee aan my frustrasie en misnoeë.
Kaptein Augustyn deel my toe mee dat ek nie by haar moet kom kla nie, maar dat ek maar die Maandag die stasiebevelvoerder moet kom sien.
Ek antwoord toe dat ek werk en nie sommer net kan uitbly of laat kom nie. Sy beveel toe aan dat ek maar ’n afspraak moet maak om hom te sien.
Met my stert tussen my bene is ek toe maar huis toe met een gevolgtrekking: dat as ’n konstabel en kaptein my nie van hulp kan wees nie, wat tog van ’n bevelvoerder drie of vier dae ná die tyd?
Ek weet ’n mens kan nie alle polisiepersoneel oor een kam skeer nie, maar dit laat ’n wrang smaak in jou mond.
Kry mens nog polisiebeamptes wat paraat is en die publiek dien? Geen wonder mense neem die reg in eie hande nie.
Beswaard